’n Man in sy twintigs van Moorreesburg het Sondagaand 27 Oktober sy eie keel probeer afsny nadat hy sy voormalige meisie in haar werksplek met ’n mes doodgesteek het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, Weskus-polisiewoordvoerder, het die man omstreeks 19:20 na Bernice Salmon (22) se werksplek in Langstraat gegaan. Hulle het glo ’n kind saam.
Salmon en die man het gestry waarna hy haar herhaaldelik met ’n mes in die bors gesteek het. Sy het op die toneel gesterf. Die man het daarna probeer om sy eie keel met die mes af te sny. Hy is in ’n kritieke maar bestendige toestand in die Tygerberg-hospitaal.
Die polisie wou nie die man se naam bekendmaak nie.
Salmon se profiel op Facebook dui aan dat sy nie in ’n verhouding was ten tyde van haar dood nie.
Verdere besonderhede oor die voorval was nog nie teen druktyd bekend nie.