Daar was Woensdag 9 Junie groot opgewondenheid by Seeskulpie in Langebaan.
Van vroegdag af het die “Seeskulpie-kleuterbrandweermanne”, gepantser met hul brandweerhoede, vir die spesiale oggend gewag.
Die groot rooi brandweerwa en bakkie met die vriendelike brandweermanne het om 10:00 die skool besoek. Die kleuters is geleer hoe om te rol as jy brand, van gevare van vuur en wat hulle moet vermy om veilig te wees.
Daarna het almal die voorreg gehad om met die brandweerslange te spuit en elkeen het ook ’n rit in die groot rooi brandweerwa met die sirene en ligte gekry.
Dit was tot groot vermaak van al die kleuters en ’n dag wat hulle sal onthou.
Seeskulpie wil graag baie dankie sê aan die Saldanhabaai-munisipaliteit se brandweerspan, vuurvegter Bashir Papier, André van Zyl, junior vuurvegter Ghurswin Hector, Randall Jaftha en vrywilliger Sibonpile Mofokeng. “Julle sal altyd ons superhelde wees.”