Gebed en vertroue in die Here het deure vir Cecilia Rossouw en haar man, Jan Rossouw, geopen.

Dié voormalige grafiese ontwerper en inwoner van Vredenburg se beroep het in 2020 ’n wending geneem toe sy besluit het om in die maak van seep en room te spesialiseer. Sy sê alles het begin die dag toe sy by ’n bloemistewinkel instap en die Here vra of dít is wat Hy vir haar wil hê.

“Ek was bereid om vir drie maande gratis te werk en meer van dié soort werk te leer, maar het vir myself gesê as die eienaar nee sê, dan weet ek dis nie vir my nie en ek moet aanbeweeg,” vertel Rossouw.

Haar ondervinding in grafiese ontwerp het Rossouw in die rigting gestuur van ’n kliënt wat in die maak van seep en room spesialiseer.

“Toe ek by die winkel instap, kry ek die reuk van blomme en die reuk van roos-seep.” Haar hart het gesê blomme, maar die antwoord was eintlik die verskeie geure en kleure van blomme in die vorm van seep en room. Rossouw het daar en dan besluit dis ’n kuns wat sy met die hulp van die eienaar van die seep-en-room-winkel wil leer en bemeester.

Rossouw het kursusse voltooi en met haar hande seep gemaak, wat vir haar natuurlik was. Sy het haar eie winkel, Tiny Leaf, in 2021 in Vredenburg saam met haar man gestig, waar sy al die kennis en passie vir die kuns van seep en room maak, uitleef. Haar man spesialiseer in kerse maak. “Om die produk te kan vashou en om die ervaringe met my klante te deel, is fantasties.” Rossouw glo almal is spesiaal en dit is wat sy vir mense wil deurgee deur dit wat sy maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025