Om die Weskus hierdie feestyd op ’n vars manier te ervaar, is ’n langtafel-strandete saam met die baasbraaier Kobus Botha net die ding.
Dié beoordelaar van Kokkedoor Vuur & Vlam is hier tot in Januarie om op spesifieke dae vars, seisoenale seekos-lekkernye sommer op die strand in Saldanha te maak.
Hy het die afgelope Saterdag (7 Desember) sy vernuftige kunsies aan ’n groep gaste gewys.
Met al sy jare ondervinding in Frankryk laat hy dit maklik lyk om iets gewoons soos mossels op die Franse manier gaar te maak – deur dit onder ’n paar lae dennenaalde te pak wat aan die brand gesteek word. Die uiteinde is ’n kulinêre smaaksensasie bekend as L’éclade de moule – mossels met ’n rokerige geur.
Kobus wys na die stuk strand voor die ou Shell-motorhawe in Hoofstraat (tussen Cup of Cake en die Saldanha-hotel) as die Weskus se “Boere-Bahamas”, kompleet met grasafdakkies en sagte stoele.
Die disse op Kobus se spyskaart word een vir een gemaak terwyl die gaste om hom staan en kyk en hy staaltjies vertel.
Verwag ’n láng middagete (long lunch), want hier word nie kortpaadjies gevat nie – net uitstekende bestanddele, gebraai op unieke maniere. Kobus se bynaam is nie verniet Kobus Braai nie.
Buiten die oesters wat rou – soos dit moet – geëet word en die gerookte mossels, word gaste getrakteer op geelstertvel wat bros oor die kole gebraai is – seekos se varkkaiings. ’n Mens sal maklik ’n bak van dié lekkerny kon verorber.
Kobus maak sy eie geurige boere-baisse gebaseer op ’n bekende Mediterreense sop, Bouillabaisse. Dit is ’n Franse vissop met ’n tamatiebasis wat met ’n wye verskeidenheid seekos en skulpvis gemaak word. Vir Kobus se weergawe gebruik hy die koppe van snoek, Jacopever, wit stompneus en bokkoms. Die uiteinde is ’n geurige sop wat oor ’n stukkie suurdeegbrood met aioli, ’n romerige, knoffelgegeurde mayonnaise-sous, geëet word.
’n Smaaklike, sagte seekatgereg is voorgesit met inheemse Weskus-herebone. Die meeste gaste het twee keer gaan skep. Die smaaklike hoofdis – vars, gebraaide geelstert met kaas-kapokaartappels gemaak van Sandveld-aartappels – is ’n besondere kopknik na die Weskus.
Die laaste dis op die smaakkragtoer was ’n Europese spitkoek met rum, ’n gâteau à la broche. Die beslag van dié koek word laag vir laag op ’n silindriese roterende spit oor ’n oop vuur gebraai. Die spitkoek, wat oor die algemeen met vieringe soos troues en Kersfees geassosieer word, is met moerkoffie voorgesit.
Dié kosavontuur en eetbelewenis is die hoogtepunt van ’n droom van Aldi en Cornelia Badenhorst van A.A. Badenhorst Family Wines buite Malmesbury. Hulle het die ou motorhaweperseel gekoop, dit gerestoureer en verlede jaar met ’n wynveiling ingewy.
Benewens die gesellighede wat al daar gehou is, bevat die perseel ook hul sjerrie-verouderingskelder. Volgens Aldi bied Saldanhabaai die perfekte weer dit te doen. Hul wyne, borrels, port en sjerrie word saam met Kobus se disse voorgesit.
Die middagetes begin om 13:30 en die eerste een word hierdie Sondag (15 Desember) gehou. Besprekings is noodsaaklik en deelname word tot 40 mense beperk. Bespreek jou eie eksklusiewe ete by kobusbraai@ gmail.com of vir bestaande datums gaan na www.dineplan.com/restaurants/kobus-botha-at-the-saldanha-wine-and-spirit-co. Die ervaring is nie geskik vir kinders onder 12 jaar nie.