Seekadette span seile vir Lipton

Vyf jong seekadette pak die veeleisende Liptonbeker-seiluitdaging volgende week van Dinsdag 27 tot Saterdag 31 Augustus op die water van Tafelbaai aan.


Vyf jong seekadette pak die veeleisende Liptonbeker-seiluitdaging volgende week van Dinsdag 27 tot Saterdag 31 Augustus op die water van Tafelbaai aan.

Die seekadette Darren de Kock (17), Nathan Vraagom (19), Ethan Williams (18), Buswe Pongolo (18) en Unam Nkohla (16) gaan as bemanningslede saam met Eerste Bootsman André Bestha (skipper) en Kapt. Graeme Plint aan die 70ste Lipton-uitdaagbeker deelneem.

Hulle verteenwoordig die Weermag-seiljagklub in die seiljag Jiwo.

De Kock, Vraagom, Pongolo en Nkohla is leerders aan die Hoërskool Diazville en Williams aan die Hoërskool Vredenburg.

Die jong seiljagvaarders word by die kadet-seilvaart-ontwikkelingsprogram (CSDP) opgelei, wat deur die Training Ship Saldanha se seekadetkorps in samewerking met die Saldanhabaai-seiljagklub en die Joodse maritieme liga bestuur word.

Vlootoffisiere wat die opleiding in hul vrye tyd behartig, sluit in Plint, Bestha en Bootsman Pravesh Badri (spanbestuurder).

Die doel van die seekadet-program is om die jeug in basiese maritieme opleiding en vaardigheidsontwikkeling op te lei.

Bestha raak veral passievol oor die moontlikhede wat dié opleiding vir die jeug kan beteken in die lig van verdere opleiding en werksgeleenthede in die maritieme bedryf.

Hoewel die fokus op oorwegend benadeelde en minderbevoorregte gemeenskappe is, sluit die program kinders van 12 jaar oud af van enige kultuur, etnisiteit, godsdiens, geslag of seksuele oriëntasie in.

Die seekadette, hul ouers, vriende, Seaport Supply en B&G het saamgewerk om die sowat R15 000 om aan die Lipton-uidaagbeker deel te neem, in te samel.

Bestha benadruk dat die seekadette se ouers baie betrokke by die program is.

Die seilopleidingskursusse wat die jong seiljagvaarders ontvang, is in lyn met die Suid-Afrikaanse seekadet-kurrikulum en dit ontwikkel seemanskap sowel as seil- en wedvaartvaardighede in ’n veilige en prettige omgewing.

Daarmee saam word ’n lewenskompas by hulle ingeprent wat eerlikheid, lojaliteit, verantwoordbaarheid, gehoorsaamheid, selfrespek, dissipline, verantwoordelikheid en moraliteit voorstaan.

Om uiteindelik as leidende seeman te vorder, begin kadette as “nuwe inskrywings”.

Hulle vorder daarna na “basiese seeman”, dan “bekwame seeman”. Daar is ook ander afdelings soos brandweer en noodhulp.

Die seekadet-program het in September 2019 begin as een van dertien aktiewe seekadet-eenhede reg oor die land. Die Saldanha-eenheid het egter ’n reusevoorsprong met dié dat hy die geriewe van die SAS Saldanha-vlootbasis kan gebruik en van hul hulp gebruik kan maak.

Benewens die feit dat Saldanhabaai die grootste natuurlike hawe met heeljaar uitstekende toestande vir seilopleiding is, is Bestha ook ’n aanwins. Hy is ’n gerespekteerde seiljagvaarder, seilinstrukteur en afrigter en dien al 28 jaar in die vloot. Hy is ook ’n gekwalifiseerde seiljagmeester, sweminstrukteur en menseredder wat al 50 000 seemyle in sewe lande afgelê het. Dit sluit agt transoseaniese vaarte in.

Die seekadette kry die hoogste gehalte koste-doeltreffende basiese maritieme opleiding en onderwys en word seemanskapvaardighede geleer wat tot karakterontwikkeling bydra. Dit sluit in ’n inleiding tot seil en ook wedvaartoefeninge elke Saterdag – meestal op die Optimist-rubberseilboot, internasionaal die voorkeurboot om kinders onder 15 jaar te leer seil.

Bestha beskou seil as ’n lewenslange sport wat sportmangees, onafhanklikheid, fisieke fiksheid en veiligheid op see bevorder. Dit betrek ook die gees en liggaam by die omliggende omgewing en maak kinders bewus van die Weskus se natuurskoon.

Die seekadet-program laat ook die kinders toe om individueel en as deel van ’n span in ’n sportsoort te presteer.

Die Lipton-uitdaagbeker is die enigste nasionale interklub-seiluitdaging in die land.

Dit dateer uit 1909 toe sir Thomas Lipton die manjifieke silwer vergulde Lipton-beker aan die Tafelbaai-seiljagklub (later die Royal Cape-seiljagklub) oorhandig het.

Met sy 112 jaar se geskiedenis het die Liptonbeker al twee wêreldoorloë, ses klasveranderinge en baie verskillende politieke veranderinge in Suid-Afrika oorleef.

You need to be Logged In to leave a comment.