Seaviewpark betoog oor behuising

Inwoners van Seaviewpark in Langebaan is moeg gewag op behuising.


Inwoners van Seaviewpark in Langebaan is moeg gewag op behuising.

’n Groep inwoners het verlede Donderdag (17 Oktober) na die munisipale kantoor in Langebaan opgeruk om hul griewe te laat hoor en ’n griefskrif te oorhandig. Inwoners meen hulle wag al vir jare vir Hop-huise, maar het tot dusver niks ontvang nie. Die onlangse lys begunstigdes, wat in Weslander gepubliseer is, het inwoners aangespoor om op te staan vir dit wat hulle glo hulle toekom.

Inwoners sê ook dit is onregverdig dat mense van elders behuising in die dorp gekry en voorkeur geniet het en dat die vereistes van wie begunstigdes mag wees, nie van pas is nie.

Beradine Lodewyk (35) van Langebaan sê sy is ’n trotse boorling van die dorp en het in 2008 vir behuising aansoek gedoen, maar het intussen uitgevind dat beide sy en haar man uit die databasis verwyder is.

“Ons maak regtig staat op hierdie behuising en iets moet gebeur. Baie woon in hokhuisies en dit is nie veilig nie. Ek wil glad nie uit Langebaan trek nie; ek bly al die jare hier en ons het vrede hier. Ons hoop die optog gaan ’n verandering maak en ’n invloed hê en wys dat ons saamstaan.”

Cyrilene Loubser (36) sê sy het ook in 2008 aansoek gedoen en is al moeg gewag. Loubser sê sy bly tans by haar ouers en dit sal wonderlik wees om haar eie ruimte te hê – ’n plekkie wat sy haar eie kan noem.

Ursula Fortuin (70) is ’n pensioentrekker en het in 2009 aansoek gedoen. Fortuin sê hoewel sy al op ’n hoë ouderdom is, sal sy dankbaar wees om ’n Hop-huis te kry. Die toestand van die wendy-huis waarin sy nou woon, is nie juis geskik nie, veral in die winter, wat veroorsaak dat sy gereeld siek word. Met ’n huisie van haar eie meen Fortuin die lewe sal baie makliker wees.

Inwoners het die munisipaliteit vyf werksdae gegee om terugvoer op hul griewe te gee.

Volgens Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), is 795 geregistreerde aansoekers vir Langebaan op die lys, maar die huidige ontwikkeling maak voorsiening vir 75 behuisingsgeleenthede.

Sy sê die lys wat in die media geadverteer is, is nie van aansoekers wat vir behuising goedgekeur is nie, maar die doel is om openbare insette oor die voornemende lys aansoekers te verkry.

“Sodra die openbare­deelname­proses voltooi is, sal ’n finale lys gepubliseer word om aansoekers te nooi om vir behuisingsubsidies aansoek te doen. Slegs ten tyde van daardie goedkeuringsproses sal goedgekeurde begunstigdes vir die geleenthede [aangewys word].”

As deel van die subsidie-aansoekproses, sê Lawrence, sal gekontroleer word om te bepaal of aansoekers vir die eenhede kwalifiseer. “Indien daar so ’n geval is [waar iemand nie kwalifiseer nie], sal hulle nie goedgekeur word nie en dus nie ’n begunstigde van die projek word nie.”

Inwoners het ook hul frustrasie uitgespreek oor ander wat behuising kry wat glo onlangs eers aansoek gedoen het. Volgens Lawrence tree die SBM as ’n agent vir die provinsiale regering op en die vereistes word deur die nasionale en provinsiale departemente van menslike nedersettings bepaal.

“Die jongste vereistes van die nasionale departement van menslike nedersettings dui aan dat die voorkeurvereistes vir begunstigde aansoekers 60 jaar en ouer, militêre veterane, individue wat gestremd is en huishoudings met ’n kind moet wees.

“Sodra dié aansoekers uitgeput is, kan jonger aansoekers oorweeg word in groepe van vyf jaar jonger as 60 jaar oud. Die rede kan dus wees omdat individue ouer is as jonger aansoekers met ’n latere registrasiedatum.”

Lawrence sê aansoekers wat nie deel van die Langebaan-Seaviewpark-projek is nie, kan oorweeg om aan die ander behuisingsubsidieprogramme deel te neem, soos die individuele subsidie-program, wat ’n aansoeker toelaat om ’n eiendom te koop deur middel van ’n staatsbehuisingsubsidie ??tot ’n maksimum waarde van R261 000, mits die aansoeker aan die vereistes voldoen.

Die vereistes is onder meer dat jy vir ’n minimumtydperk van vyf jaar op die munisipale behuisingsaanvraagdatabasis is, 18 jaar of ouer is, en ’n maksimum maandelikse huishoudelike inkomste van R3 500 voor aftrekkings verdien.

. Skakel die munisipaliteit se afdeling vir menslike nedersettings by 022 701 6934 met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.