Sea Harvest het pas sy resultate vir die boekjaar tot einde Desember uitgereik en spog met ’n groei van 16% in bedryfswins tot R389 miljoen.
Felix Ratheb, uitvoerende hoof, sê dit was ’n baie besige jaar vir die groep, met groot beleggings om die onderneming te diversifiseer en om transformasie en volhoubaarheid te verseker. Viking Fishing en Viking Aquaculture is in die boekjaar oorgeneem en ’n tweede vaartuig met vriesgeriewe is gekoop.
Dit sal Sea Harvest help om die internasionale mark beter te bedien. Die groep het ook nuwe tegnologie van Ysland in sy fabriek in Saldanha geïnstalleer om doeltreffendheid te verbeter. Die groep het ’n dividend van 40c per aandeel verklaar, wat 29% meer is as die vorige jaar s’n. Die wesensverdienste per aandeel is wel net 4% hoër op R1,12 weens verwatering nadat meer aandele uitgereik is.
Dit is weens R38 miljoen se nuwe Sea Harvest-aandele wat aan ’n personeeltrust van Viking toegeken is. Sea Harvest is 80% onder swart beheer en doen sake in Suid-Afrika, Namibië en Australië.
Die groep het in Januarie sy oorname van Ladismith Cheese beklink en in Februarie ’n aanbod gemaak om die oorblywende 44% van die Australiese garnaal-onderneming, Mareterram, wat hy nog nie besit nie oor te neem.
Mareterram, die Australiese onderneming, vang garnale, kammossels en inkvis aan die kus van Wes-Australië. Viking Fishing vang onder meer stokvis, koningklip, sardyne, snoek en pienk garnale. Viking Aquaculture het perlemoenplase by Buffeljags aan die Suid-Kaapse kus en by Kleinzee aan die Namakwalandse kus. Hy besit oesterplase by Lüderitz in Namibië, asook by Saldanhabaai waar mossels ook gekweek word. Sy afdeling Molapong Aquaculture produseer reënboogforel op ses verskillende plase in die Wes-Kaap.