Sea Harvest het onlangs die beherende aandeelhouer in Mareterram, ’n Australiese maatskappy wat garnale vang en verwerk, geword.
Mareterram het ook ’n sterk seekosbemarkings- en verspreidingsafdeling, wat al lank Sea Harvest-stokvis in Australië bemark en versprei.
Sea Harvest besit nou 56% van Mareterram nadat hulle minderheid-aandeelhouers uitgekoop het.
Volgens Felix Ratheb, Sea Harvest se hoof uitvoerende beampte, is Mareterram se sakestrategie nouverwant aan Sea Harvest s’n – om ’n wêreldwye agri-onderneming te word. Die Mareterram-transaksie volg kort op die hakke van Brimstone se verhoogde aandeelhouding van 85% in Sea Harvest, nadat hulle Kagiso Tiso Holdings uitgekoop het.
Brimstone het ook ’n aansienlike minderheidsaandeel in die Oceana-visseryegroep.
Dié groep het onlangs Daybrook-visserye, ’n vismeel-en-visolie-aanleg in Louisiana in Amerika, aangekoop. Oceana is die grootste vissery-maatskappy in Afrika, veral weens die markdominante Lucky Star-handelsmerk. (Bron: Business Day Live)