SBM se toerismeplan fokus op bewaring en kultuurerfenis

Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het hul konsepplan vir toerisme in dié streek bekendgestel.


Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het hul konsepplan vir toerisme in dié streek bekendgestel.

Die bewaring van die plaaslike natuurskoon en ’n fokus op Weskus-erfenis is uitgelig as dryfvere vir die volgende vyf jaar.

Volgens die plan sal SBM self die liggaam, in beheer van toerisme in die munisipale gebied, word. Slegs die verantwoordelikheid van bemarking sal uitgekontrakteer word.

Die nuwe toerismestrategie stel ook voor die wegdoen van meer tradisionele toerisme-bewusmaking ten gunste van ’n sterker aanlynfokus. Dit sluit in ’n effektiewe webwerf, en moontlik geoutomatiseerde toerisme-inligtingmasjiene op strategiese punte.

Sommige soos Lizelle Strydom, voormalige Hopefield- toerismebeampte, vrees dit beteken toerismekantore op die dorpe verdwyn.

“Die ketting van persoonlike kommunikasie kan nie met ’n masjien, wat in elk geval binne dae gevandaliseer word, vervang word nie,” sê Strydom op die publieke forum, Hopefield News/Nuus.

Benewens die bewaring van die streek se natuurskoon word erfenisroetes, die identifisering van swart toerismebesighede, fasiliteite vir ekotoerisme en maklike toegang tot kusgebiede beplan.

Die plaaslike geleentheidskalender sal ook uitgebrei word.

Die munisipaliteit wil graag ’n groot trekpleister in elke kwartaal hê.

Sowat 100 000 besoekers besoek jaarliks die gebied.

Nuwe geleenthede en toerisme-bestemmings sluit in bootritte (Langebaan), pap-en-wors-eetplekke in die townships en die moontlikheid van ’n geskiedkundige militêre toer.

Daar word selfs gekyk na ’n rage-partytjie vir matrieks soos dié wat jaarliks in Plettenbergbaai gehou word.

Paternoster se verwaarloosde vismark kan moontlik ook eersdaags regmaak vir opknappingswerk.

“Voorheen benadeelde gemeenskappe het weens hul diverse kultuur, baie om by te dra.

“Toerisme kan bewusmaking van ou kulture, tradisies en die kuns en kunsvlyt wat uitsterf, aanwakker,” lui die plan.

Inwoners wat hul insette op die konsep- strategie wil lewer, kan ’n afskrif by al SBM se kantore en biblioteke bestudeer. ’n Weergawe is ook op die munisipale webblad, www.saldanhabay.co.za, beskikbaar.

Kommentaar en insette moet op of voor 12:00 Maandag 23 Mei ingedien word.

You need to be Logged In to leave a comment.