SBM-burgemeester onder die loep

Die uitspraak bepaal ook dat SBM die werknemer vir die verlies van sy inkomste sedert Desember 2019, skadevergoeding van R254 745, 60 moet betaal.


Die stof wil nét nie gaan lê nie.

Die vyf “omstrede” politieke aanstellings in die kantoor van die DA-burgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), is alweer, of altans, nog steeds in die nuus. Die burgemeester, Marius Koen is verlede week deur politieke partye, op media-platforms en televisieverslaggewing gepeper oor beweerde ongerymdhede wat die genoemde politieke aanstellings betref, en hy moes ook aantygings van korrupsie en bedrog, wat glo in sy kantoor plaasvind, aanhoor. 

Koen het in reaksie hierop Saterdag in ’n videoverklaring wat vir die Saldanhabaai-burgemeester se nuwe sosiale media-kanaal, SMC verfilm is, gesê, “laat hulle wat so maklik klip gooi met bewyse kom, anders is hulle aantygings slegs onwaar en afbrekende polities gemotiveerde stellings.”

Verder het Weslander vandeesweek verneem ’n voormalige werknemer in dié kantoor, een van die politieke aanstellings, het SBM in die arbitrasiehof aangevat om skade-vergoeding te eis nadat hy volgens ’n verslag van die Suid-Afrikaanse plaaslike regering-bedingingsraad uit sy pos as strategiese raadgewer van die uitvoerende burgemeester “ontslaan is”. 

Aanstellingsprosedure  

Reeds sedert 2016 is die geldigheid van die aanstellingsprosedure van die vyf personeellede in die burgemeester se kantoor in twyfel getrek. Jaco Kotze, ’n raadslid van die Saldanhabaai-inwonersaliansie (SIA), wou weet of dié aanstellings moontlik op “onreëlmatig en vrugtelose bestedings kan neergekom?” Weslander het verlede jaar berig dat die openbare beskermer ’n ondersoek is van stapel gestuur het om die bewerings in die burgemeester se kantoor te ondersoek.

Intussen het die ouditeur-generaal van Suid-Afrika in sy 2018’-19-oudit van die munisipaliteit bevind dat alhoewel daar vir die aanstellings begroot is, dit “onreëlmatig en nie in lyn met wetgewing” gedoen is nie. Die ouditeur-generaal het daarna versoek dat die poste einde verlede jaar geadverteer word, aangesien dit nie aan die publiek geadverteer was nie en voorheen op grond van nominasie gedoen is. Die personeellede sou dan weer vir hulle poste moes aansoek doen. Dit blyk nou dat SBM moontlik ’n fout met die advertensie gemaak het toe die vyf poste in November 2019 in Weslander geadverteer is.

Die salarisskaal is volgens die voormalige werknemer wat met Weslander gepraat het, vir minder geadverteer as wat die vyf personeellede verdien en die afsnytyd vir aansoeke op die advertensie, was net ’n week ná die plasing daarvan, teenoor ’n verpligte tydperk van drie weke soos wetgewing vereis. Vir die voormalige werknemer het die geadverteerde salaris en dit wat hy werklik verdien het, met sowat R9000 verskil. In die verslag van die bedingingsraad waarvan Weslander ’n afskrif het, word daar genoem dat die munisipale bestuurder onder kruisverhoor erken dat hy ook van mening was dat die betrokke advertensie verkeerd geplaas is. 

Onregverdig ontslaan

Volgens die verslag is die voormalige strategiese raadgewer van die burgemeester einde November uit sy pos ontslaan aangesien hy nie weer vir sy pos aansoek gedoen het nie. Hy was aanvanklik op ’n jaarkontrak aangestel en sy kontrak is daarna van maand tot maand hernu. Hy het die geadverteerde salaris bevraagteken en dit glo onder die munisipale bestuurder se aandag gebring.

Hy was van mening dat sy aanstelling in die pos, omdat sy kontrak ook ’n klousule bevat wat dit bevestig, wettiglik aan die termyn van die burgemeester gekoppel is, en daarom het hy nie weer vir sy werk aansoek gedoen nie.Hy sê het daarop aangedring dat die advertensie teruggetrek word en die proses, reg en wettiglik oorgedoen word.

Dit het egter nie gebeur nie. Wat hom pla is die feit dat die ander politiese aanstellings weer vir hulle poste, soos geadverteer teen ’n verminderde salaris, aansoek gedoen het, maar steeds glo die hoër salarisse verdien. “Dit kom neer op bedrog,” sê hy.

Die bedingingsraad het bevind dat die voormalige strategiese raadgewer van die burgemeester onregverdig ontslaan is en weer vir sy werk op 1 Augustus moet aanmeld. Hy het vir werk opgedaag, maar iemand anders is reeds in die pos aangestel. Die uitspraak bepaal ook dat SBM die werknemer vir die verlies van sy inkomste sedert Desember 2019, skadevergoeding van R254 745, 60 moet betaal.

Munisipaliteit antwoord

Drieka Smit, bestuurder van kommunikasie en kliëntediens by die munisipaliteit het namens SBM aan Weslander geskryf: “dié uitspraak sal op hersiening geneem word aangesien die voorsittende beampte verskeie feitelike en regsgronde in sy bevindinge en uitspraak misgetas het.”

 Die werknemer het ná die verstryking van sy tydelike aanstelling, nie weer aansoek gedoen vir die pos nie en vereis nou om weer in sy pos aangestel te word. ”Die voormalige strategiese raadgewer is egter bereid om met SBM te skik, aangesien hy besef dat die pos reeds gevul is.

In die genoemde video van die burgemeester wat op die SMC-kanaal gepubliseer is, verduidelik Koen dat die politieke aanstellings wat bystandfunksies in die burgemeester se kantoor verrig, “algemene praktyk is, al vir menige termyne onder verskillende partye vir die kantoor van die burgemeester goedgekeur is”, dat daar vir die “poste begroot is” en dat dié poste “gewoonlik saam met die termyn van die uitvoerende burgemeester loop.”

Die werknemer wat die arbitrasiesaak teen SBM gewen het, is van mening Koen erken dan self die poste “loop saam met die termyn van die burgemeester.”

Hy voel derduisende rande in belastingbetalersgeld gaan gemors word omdat SBM die saak wil hersien. “Op grond van wat?” vra hy.  Koen het in sy video alle beweringe van bedrog ontken en gesê hy is nog nooit as burgemeester “deur die ouditeur-generaal skuldig aan korrupsie bevind nie” en dat in werklikheid SBM al drie skoon oudits gedurende sy termyn as burgemeester gekry het. “My hartsbegeerte is om my gemeenskap tot die beste van my overmoë te bedien,” het hy afgesluit.

**(Nota van redakteur: Hierdie is die volledige berig, ‘n verkorte weergawe is in die 6 Augustus 2020-uitgawe gepubliseer).

You need to be Logged In to leave a comment.