Die Weskus is besig om ’n talentfabriek vir atletieksterre te word.
Nie minder nie as 12 laerskoolatlete van die Weskus het die afgelope naweek aan die Suid-Afrikaanse Skole Atletiek (Sasa)-byeenkoms by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in Port Elizabeth deelgeneem.
En die Weskus se naam is hoog gehou, met vier medaljes wat saam teruggekom het, waaronder drie goues.
Lehan Willemse van Laerskool Vredenburg het ’n derde plek in die seuns o.12-hoogspring behaal, met sy skoolmaat Cole Boys wat ’n eerste plek in die seuns o.12-verspring verower het. Jani Steyn van Curro Langebaan is as die meisies o.10-hoogspring-kampioen gekroon, terwyl Ceshwill Jooste van Panorama Primêr goud in die 100 m-aflos vir seuns o.10 verower het.
Volgens Konrad Toerien, Weskus Atletiek Federasie se verteenwoordiger vir laerskole, was dit klaar uitsonderlik om 12 atlete te hê wat vir die Sasa-byeenkoms in aanmerking kon kom.
“Maar om vier medaljes in te palm, waarvan drie goud, is uitstekend,” aldus Toerien.
Verlede jaar was daar slegs vier atlete van die Weskus wat vir die Sasa-byeenkoms in aanmerking gekom het.
Jean-Neil Barends van Laerskool Saldanha het ook bitter amper ’n vyfde medalje vir die Weskus huis toe gebring toe hy ’n vierde plek in die seuns o.10-gewigstoot behaal het.
. Drie leerders van Piketberg het ook aan die Sasa-byeenkoms deelgeneem. Ruwaldo Erasmus en Keeshan van Rooy van Steynville Primêr, en Ruvan van der Westhuizen van Piketberg Hoërskool het deelgeneem, met Van der Westhuizen wat ’n goue medalje saam met sy aflosspan verower het.
’n Leerder van Porterville Primêr, Jean-Pierre Snell, is ook as SA kampioen gekroon toe hy die seuns o.13-verspring met ’n afstand van 5,61 m gewen het.