Die spelers van die Vredenburg-rugbyklub het seker gemaak Wesbank kom nie verby nie. Foto: Vredenburg-rugbyklub

Die Saldanhabaai-rugbyklub het sy segetog in die Boland-Top-12-reeks Saterdag (18 Oktober) met ‘n harde, maar welverdiende 32-42-oorwinning oor Abbotsdale by die “Steel Cage” voortgesit.

Wesbank het die Vredenburg-rugbyklub op hul tuisdorp kom takel.

Ná ‘n sterk vertoning teen Hillcrest United (54-36) die vorige week, het Saldanhabaai, wat in Groep B voorloop, die wedstryd met groot selfvertroue betree, terwyl Abbotsdale ná ‘n gelykopuitslag teen Delicious vasberade was om die span se tuisskare te vermaak.

Abbotsdale het eerste bloed geruik toe sy flank Rheinhardt Adonis ‘n los bal van ‘n Saldanhabaai-lynstaan benut het om die eerste drie van die wedstryd te gaan druk.

Saldanhabaai het egter vinnig teruggekap met ‘n drie deur die vleuel Mikyle Hanse, gevolg deur ‘n kragtige lopie van die slot Johan Louw, wat sy span in ‘n goeie posisie geplaas het.

Die Saldanhabaai-slot Johan Louw duik oor vir ‘n drie. Foto: Saldanhabaai-rugbyklub

Die losskakel Faghon-Leigh Snyders het toe ‘n perfekte skop agter die verdediging geplaas, wat deur Demashu Maya afgerond is.

Die skrumskakel Monray Jacobs het die doelskop oorgeklits om die telling 8-19 te maak.

Net voor rustyd het Louw ná ‘n goedgeorganiseerde lynstaan vir die tweede keer oor die doellyn geduik, wat Saldanha ‘n bonuspunt en ‘n gemaklike 8-24-voorsprong teen rustyd besorg het.

Abbotsdale het die tweede helfte met groot vuurkrag begin en Saldanha onder baie druk geplaas, maar die besoekers het vinnig’n teenaanval begin en Maya het sy tweede drie gedruk en die telling na 8-29 opgeskuif.

Die tuisspan het egter nooit tou opgegooi nie. Die skrumskakel, Millon Bezuidenhout, en later Conray Koopman het drieë gedruk om die gaping kleiner te maak.

Ambijorn Vraagom van Saldanha het egter met ‘n mooi saamgestelde beweging in die hoek afgerond, en die plaasvervanger Wilton Hoogbaard het die bykomende twee punte aangeteken om die telling 22-36 te maak.

Abbotsdale het tot die einde toe geveg met drieë deur Daclynn Koopman en weer later deur Conray Koopman in die hoek om die telling tot 32-36 terug te bring.

In die laaste paar minute van die wedstryd het Saldanha egter koelkop gebly, twee strafskoppe benut en die oorwinning met 32-42 verseker.

Met dié sege behou Saldanha sy eerste posisie op die Top-12-punteleer in sy groep en wys hy weer sy karakter en vasberadenheid.

David Rossouw berig in die wedstryd in Vredenburg het Wesbank, die voorloper in Groep A, teen ‘n begeesterde Vredenburg gewys waarom rugbyspelers 80 minute lank spéél totdat die eindfluitjie blaas, want die Burg Boys van Ryno Benjamin het naelskraaps 37-35 gewen.

• Op Saterdag 25 Oktober om 17:00 speel Vredenburg t. Villagers Worcester en Saldanhabaai t. Safcol United.

Hier volg ‘n fotogalery met foto’s van Saldanhabaai en Vredenburg se wedstryde:

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025