Saldanhabaai
Weslie Adams bars van vreugde uit oor die drie wat Wilmen Schreuder pas vir die Saldanhabaai-rugbyklub gedruk het. Foto: Bernadette Louw

Tonele van groot blydskap het Saterdag 25 Oktober afgespeel toe die Saldanhabaai-rugbyklub sy posisie op die Groep B punteleer nog verder met ‘n 46-41-oorwinning oor Safcol verstewig het.

Die sege was veral soet omdat dit vergelding bring ná hul nederlaag teen dieselfde span in Oktober verlede jaar.

Die Groep B-punteleer toon dat Saldanhabaai en Robertson op 15 punte elk staan en steeds onoorwonne is. Robertson behou egter die eerste plek as gevolg van punteverskil.

Met soveel op die spel was die wedstryd van die begin af gespanne en albei spanne het die veld onder groot druk betree. Saldanhabaai was deeglik bewus van Safcol se selfvertroue en fisieke styl en het niks as vanselfsprekend aanvaar nie.

Safcol het vroeg die voortou geneem toe sy haker, Jacquin Ruthford, in die derde minuut van die wedstryd en ná ‘n suksesvolle lynstaan ‘n dryfmaalbeweging van stapel gestuur het en agter die doellyn te eindig.

Saldanhabaai
Weslie Adams bars van vreugde uit oor die drie wat Wilmen Schreuder pas vir die Saldanhabaai-rugbyklub gedruk het. Foto: Bernadette Louw

Ricardo Claassen het die doelskop oorgeskop vir ‘n 0-7-voorsprong. Saldanhabaai het met twee strafskoppe reageer om die telling 6-7 te maak.

Kort daarna het Safcol se losskakel, Willsley Barnies, deur die tuisspan se verdediging gesny, die bal is verder deur sy skrumskakel gespeel en sy senter, Harlon Klaasen, het in die hoek afgerond.

Die suksesvolle doelskop het die puntestand op 6-14 te staan gebring. Saldanhabaai het teruggeslaan toe Wilmen Schreuder ná volgehoue druk en goeie samewerking tussen die voor- en agterspelers oor die wit streep duik om die telling na 11-14 op te skuif.

Safcol het egter momentum gebou en sy vleuel Slade Jacobs het in die hoek gaan kuier ná swak verdediging deur die tuisspan. Die skrumskakel, Monray Jacobs, het vir die laaste tien minute van die eerste helfte vir absolute vermaak gesorg en met sy blitsige aftrappe en spoed drie drieë gaan druk om die telling op 32-19 te staan te bring.

Die laaste drie was gewis een vir die boeke – “chip and chase” tot agter die doellyn. Wat ook al in die twee spanne se kleedkamers gesê is, het duidelik vrugte afgewerp.

Ná ‘n vroeë strafskop aan Safcol in die tweede helfte, wat die telling tor 32-22 gebring het, het Wilton Hoogbaard die besoekers se hanteerfout in die agterlyn uitgebuit en agter die pale geëindig. Met sowat 20 minute se speeltyd oor het Safcol egter sterk teruggeslaan en Klaasen (sy tweede drie) en sy binnesenter, Likhaya Tengimfene, het elk ‘n drie gedruk om die gaping na 39-36 te verklein.

Die plaasvervanger-skrum- skakel PJ Sauls het met sowat agt minute se speeltyd oor in die hoek gaan kuier om Safcol vir die eerste keer sedert die begin van die wedstryd die voortou te laat neem, met die telling op 39-41.

Saldanhabaai het egter nie moed opgegee nie. Die plaasvervangervleuel Mikyle Hanse het ná ‘n puik agterlyn-beweging in die hoek afgerond, met Hoogbaard wat die ekstra twee punte bygevoeg het.

Die telling het na 46-41 opgeskuif, wat uiteindelik die eindtelling was. Met dié oorwinning asook twee oorblywende wedstryde in hul groep bly Saldanha sterk in die wedloop om sy plek in die halfeindstryd te verseker.

Vredenburg het sy tuiswedstryd 23-29 teen Villagers Worcester verloor en daarmee saam enige kans om nog die Top-12 te wen.

Saterdag 1 November speel Saldanhabaai t. Delicious NW om 15:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025