Matthew Jacobs van Saldaha loop oor sy teenstander in hul Grootuitdaagbeker-wedstryd.

Die Saldanhabaai-rugbyklub het die Velddrif-rugbyklub Saterdag (28 Junie) op die Transnet Saldanha-stadion aangedurf.

Die twee spanne het mekaar vroeër in die eerste ronde op Velddrif gepak, waar Saldanha- baai ‘n noue nederlaag van 33-37 teen Velddrif gely het.

Saldanhabaai het egter hierdie keer die bordjies verhang en seker gemaak dat hy nie sy vangs laat glip nie deur Velddrif in te katrol, die wedstryd te beklink en sy posisie bo-aan die punteleer van die Weskusstreek met ‘n klinkende oorwinning van 39-29 te verstewig.

Beide spanne het die veld in ‘n deurslaggewende wedstryd met vasbeslotenheid betree. Die verwagtinge was hoog en die atmosfeer gelaai met spanning. Saldanhabaai het egter vroeg hul voorneme gewys deur ‘n 19-0-voorsprong binne 18 minute op te bou – danksy Urgen Barends, Matthew Jacobs en Darren Visser se pragdrieë.

Velddrif het egter karakter getoon deur Maruis Galant se eerste drie in die 25ste minuut, gevolg deur ‘n strafdoel van Wilton Hoogbaard vir Saldanha (22-7).

Vurige spel deur voor en agterspelers aan Velddrif se kant het tot twee vinnige drieë deur Elghin Charlies en Phil Goliath gelei, wat binne vyf minute die telling in ‘n ommeswaai na 22-19 verander het. Dit het die agterstand na net drie punte teen rustyd verminder.

Ná die hervatting van die tweede helfte het Velddrif sy herlewing voortgesit toe sy senter Deloano Dietrich ‘n pragdrie gedruk en sy span die eerste keer in die wedstryd laat voorloop het (24-22). Saldanha het hom egter reggeruk en aangevalle afgestuur met goeie spel tussen sy voor- en agterspelers, wat gelei het tot beide Visser en Jacobs se tweede drieë, om die telling tot 36-24 te maak.

Met nog net tien minute oor het Velddrif ‘n laaste poging aangewend en Lawrence Wilson het daarin geslaag om ‘n onverdoelde drie aan te teken (36-29), maar Saldanha het die laaste sê gehad toe die skeidsregter ‘n strafskop toegeken het weens onkantspel deur Velddrif. Die skop is oorgeklits om die eindtelling op 39-29 te staan te bring.

Randall Julius, Saldanhabaai se afrigter, het gesê: “Dit was ‘n harde wedstryd van hoë gehalte tussen twee topspanne in ons streek. Ons het vroeg met ‘n goeie plan vorendag gekom, wat vrugte afgewerp het. Ná 25 minute was ons 19-3 voor, maar Velddrif het karakter gewys en ons behoorlik in die ‘los’ getoets.

Vir die komende naweek teen Pella wil ons voortbou op hierdie momentum en aanhou slyp aan lynstane, skrums en fasebou. Ek dink ons het die tweede helfte slim bestuur en Velddrif gedwing om diep uit sy eie gebied te speel. Dit het ons uiteindelik laat deurdruk.”

Ten spyte van moeilike weers- toestande het albei spanne die skare met opwindende hardlooprugby en agterlyn-briljantheid bederf, wat gewys het waarom Weskus-rugby so gewild is.

Saldanha het met dié oorwinning nie net ‘n bonuspunt-sege en vyf waardevolle punte verdien nie, maar ook seker gemaak dat hy sy posisie bo-aan die punteleer vestig – drie punte voor sy naaste teenstander, St. Helenabaai-rugbyklub. Velddrif het egter nie met leë hande huiswaarts gekeer nie, maar een troospunt uit die wedstryd verdien.

Ander uitslae

•Weskus

Saldanha 39-29 Velddrif,

Vredenburg 25-20 Langebaan, St Helena 44-17 Young Hearts, Paternoster 34-28 Hopefield

•Swartland

Wesbank 44-17 Moorreesburg, Abbotsdale 46-53 Saron,

Porterville 59-6 Never Despairs,

Liefling 19-25 Mamre

Die Saldanhabaai-skrumskakel Darren Visser laat die bal loop. Foto’s: Deon Julius

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025