‘Saldanha van wen beroof’

Is die voormalige Boland-kampioen Saldanha Saterdag van ’n oorwinning beroof? Saldanha het Saterdag op sy tuisveld in sy tweede Sanlam-Boland-Top-12-wedstryd teen die verdedigende Boland-kampioen, Safcol, met 25-27 vasgeval.


Is die voormalige Boland-kampioen Saldanha Saterdag van ’n oorwinning beroof? Saldanha het Saterdag op sy tuisveld in sy tweede Sanlam-Boland-Top-12-wedstryd teen die verdedigende Boland-kampioen, Safcol, met 25-27 vasgeval.

Die voormalige Boland-kampioen het met die wind van agter reeds in die vyfde minuut met ’n strafdoel die voortou geneem.

Safcol het egter met die afskop sekondes later die bal gewen en in die hoekie oorgeval vir ’n onverdoelde drie en die voortou geneem. Die voormalige kampioen het daarna verwoed aangeval en die besoekers tot foute gedwing en weer die voortou met ’n verdoelde drie geneem.

Die tuisspan se dissipline het daarna begin lol en die besoekers kon afrond met ’n verdoelde drie om weer die voortou te neem. Saldanha, wat daarna by tye gevaarlik gelyk het, moes egter toekyk hoe die besoekers ná swak verdediging nóg ’n onverdoelde drie behaal. Die tuisspan het nie die voordeel van die sterk suidewind van agter tot sy voordeel gebruik nie en die spanne het gaan water drink met die tuisspan 10-17 agter.

Die tuisspan het die tweede helfte met die wind in sy gesig teen ’n vinnige tempo begin en reeds in die tweede minuut ’n onverdoelde drie behaal om sy agterstand tot twee punte te laat krimp. Die tuisspan het daarna met aanvallende spel verskeie geleenthede laat skipbreuk ly, met balbesit wat verlore gegaan het.

Safcol het met die tuisspan op die aanval besit omgekeer en met hardlooprugby ver veld gewen. Die tuisspan kon egter nie al die gate toestop nie en die besoekers kon met ’n onverdoelde drie weer hul voorsprong tot sewe punte vergroot.

Die skeidsregter het daarna vanaf die afskop die spel laat voortgaan nadat Saldanha se afskop nie 10 m meter gehaal het nie. Die besoekers het egter die tuisspan aan die slaap betrap en voortgespeel.

Die beslissing daarna het die oë laat rek, toe ’n Safcol-speler duidelik die bal verloor het, maar die skeidsregter ná konsultasie met sy assistent, wat nêrens naby die voorval was nie, besluit het om die drie toe te ken.

Die omstrede drie het die besoekers 15-27 voor geplaas. Die tuisspan het daarna die een aanval ná die ander begin, maar die gebrek aan afronding het gepla. Die tuisspan het nie opgegee nie en met 15 minute speeltyd oor het die tuisspan oor die besoekers se doellyn gebars, maar die skeidsregter het besluit die tuisspan het die bal verloor.

Die tuisspan se karakter en veggees het daarna sterk na vore gekom en met 10 minute oor het die tuisspan die damwal gebreek met ’n onverdoelde drie om weer binne trefafstand te kom. Die tuisspan het weer tot meters van hul teenstaanders se doellyn gevorder, net om besit af te staan. Saldanha het egter met drie minute oor ’n drie behaal. Die doelskop wat sake gelyk kon maak, was egter skeef.. Wedstrydbepalings: 26 OktoberGroep A: 15:00: Vredenburg t. Worcester Villagers; 17:00: Abbotsdale t. Newton; Caledon t. Vanrhynsdorp Eagles; Groep B: 15:00: Young Spurs t. Robertson; 17:00: Ceres t. Saldanha; Safcol United t. Darling.

You need to be Logged In to leave a comment.