Saldanha het Saterdag in Mamre karakter en veggees teen die tuisspan getoon en plaaslike ondersteuners stil gespeel nadat hy rustyd 8-21 agter was.
Mamre, die streekkampioen, het die besoekers van die eerste minuut onder druk geplaas en was rustyd 21-8 voor. Die blou tsoenami het egter die wedstryd 38-32 gewen.
Mamre, wat die eerste helfte met skitterende verdediging die besoekers op die agtervoet gehou het, het ook die meeste gebiedsvoordeel en balbesit geniet.
Saldanha het in die eerste paar minute tot by die tuisspan se doellyn gevorder, maar die tuisspan se rotsvaste verdediging het verhoed dat Saldanha die doellyn kon oorsteek.
Die besoekers, wat eerste bloed geruik het met ’n strafskop, moes daarna keer vir al wat hy werd was.
Ná drie verdoelde drieë was die groen truie van Kenny Stadler in beheer van die wedstryd en ’n rugbyles het op die besoekers gewag.
Mamre het egter in die tweede helfte die kluts kwytgeraak en met twee geelkaarte en ’n rooikaart die besoekers toegelaat om die tweede helfte te oorheers.
Saldanha het daarna die tuisspan gewys hoekom ’n wedstryd ná 80 minute gewen word en nie 40 nie.
Saldanha, wat ná die wedstryd steeds onoorwonne is, het koelkop gebly en die tuisspan die meeste van die verdediging laat doen, met 30 punte wat in die tweede helfte aangeteken is en die wedstryd in die laaste 10 minute nog enige kant toe kon swaai.
Bradwin Prins het met sy driekuns weer eens gewys hoekom hy die prins van vleuels is.
.
St. Helenabaai het op sy tuisveld die troepe van Ruben Abels met 41-21 heeltemal oorskadu. Die wedstryd wat na die eerste helfte nog redelik gelykop was, het ook die tuisspan in die tweede helfte na ’n hoër rat laat oorskakel.
Met die seisoen slegs twee wedstryde oud, is Saldanha, St. Helenabaai en Vredenburg die enigste onoorwonne spanne.
Volledige uitslae:
. Weskus
Mamre 32-38 Saldanha, St. Helena 41-21 Young Hearts, Langebaan 31-25 Velddrif, Piketberg 22-26 Vredenburg.
. Swartland
Goodhopes 38-33 Abbotsdale, Riebeeck United 38-33 Darling, Porterville 34-15 Villagers Wittewater, Saron 25-20 Wesbank en Never Despairs 38-22 Moorreesburg.
Hierdie naweek speel Vredenburg teen Mamre, Saldanha teen Hopefield, Paternoster teen Langebaan, Velddrif teen St. Helena en Steenberg’s Cove teen Piketberg.