Saldanha het Saterdag sy kanse in nat en winderige toestande beter as die tuisspan, Mamre, benut en so in die twee spanne se kragmeting in Mamre die wa deur die drif getrek.
Saldanha het met die bonuspunt-oorwinning (22-13) daarmee ook sy boonste posisie op die punteleer behou ten spyte van een verloorwedstryd. Die besoekers, wat gaan water drink het met die telling 12-6, het twee drieë in die eerste helfte met die wind van voor gedruk. Saldanha het minder foute in die toestande gemaak, maar ook baie lynstaanbesit by die tuisspan afgeneem en sodoende op die voorvoet gebly.
Die verdedigende Bolandse klubkampioen is vroeg in die tweede helfte vir ’n wyle geskud toe die tuisspan sy neus voor gekry het. Wat na ’n tweede nederlaag vir die kampioenspan gelyk het, het egter saam met die wind weggewaai en die besoekers het daarna na ’n hoër rat oorgeskakel om die wedstryd te beklink.
Saldanha het met nog twee drieë geantwoord terwyl die tuisspan die een fout na die ander gemaak het, en sodoende die nodige bonuspunt gekry, wat die kampioen steeds in die eerste plek hou. Saldanha pak Saterdag Langebaan, wat sal poog om sy posisie op die punteleer te verbeter.
Velddrif kon egter nie op sy vorige vertoning voortbou nie en het 13-20 op die grafkelder vasgeval. Die enigste onoorwonne span, St. Helenabaai, het ook gewys dat hy nie maklik sy plek op die punteleer gaan afstaan nie toe hy Piketberg in ’n wegwedstryd 27-8 verslaan het. Vredenburg se Burg Boys, wat gemengde welslae op die veld behaal het, het Langebaan 18-12 getroef terwyl Hopefield Paternoster 22-20 geklop het.
Saterdag se wedstryde is: Velddrif teen Mamre; Paternoster teen St. Helenabaai; Young Hearts teen Hopefield, Vredenburg teen Piketberg en Saldanha teen Langebaan.