David Rossouw
Die Sanlam Boland Rugbyunie is nie net daar om rugby te bevorder nie, maar speel ook ‘n belangrike rol in die bou van gemeenskapsverhoudings en die versterking van vriendskapsbande tussen klubs en spelers. Met hierdie visie het die unie sy borge genader om rugby weer ‘n bekende en geliefde sport in die Boland te maak.
Die bekendstelling van die Derby-dag tussen Vredenburg en Saldanha wat eerskomende Saterdag 17 Mei beslis word, het Woensdagaand 7 Mei in Saldanha by die Saldanha Transnet-stadion op ‘n spesiale geleentheid waar die bekende sportaanbieder Lucian Cupido die klubs verwelkom het, plaasgevind en het die ware betekenis van Derby-dag beklemtoon. Hierdie dag is nie net oor kompetisie nie, maar ook oor gemeenskapsbetrokkenheid en die viering van sport as ‘n verbindende krag.
Davie Lawrence van Boland Klubrugby het namens die president, Bennie van Rooi, en die adjunk-president, Patrick (Pat) Marran, sy goeie wense aan die gaste, klubs en spelers oorgedra. Hy het die belangrikheid van waardes en menslikheid binne die sport beklemtoon, en daarop gewys dat elke speler altyd moet onthou dat hy eers ‘n mens is voordat hy ‘n rugbyspeler is.
Sanlam se plaaslike verteenwoordiger, Sibusiso Appolis, het ook ‘n kort bemoedigende boodskap aan die Boland Rugbyunie en sy klubs gerig en almal sterkte vir die seisoen toegewens.
Die nuwe klubvoorsitter van Saldanha- baai, Johann Maarman, het in sy openingstoespraak gesê: “Saldanha is ‘n groot skip en die voorloper van Weskus-rugby.
“Ons roei met die spane wat aan ons toevertrou is en ons is op koers. Ons het lanklaas teen Vredenburg gewen, maar hierdie jaar gaan dit anders wees.”
Maarman het erkenning gegee aan legendariese spelers soos Koos Strauss, Robert (Robbie) Kekane en Maxwell Moss, asook administrateurs wat ‘n impak op die opbou van die Saldanhabaai-rugbyklub gehad het.
Volgens Maarman is die Derby-dag meer as net ‘n rugbywedstryd – dit is ‘n geleent- heid vir sosiale samehorigheid, die viering van Boland Rugby en die uitbou van klublojaliteit.
Hy het ook sy kollega, Godfrieds van Deventer, voorsitter van Vredenburg-rugbyklub, in sy nuwe rol verwelkom.
Van Deventer het benadruk dat hul doelwit steeds is om eerste in die Weskusstreek te eindig.
Van Deventer het die samewerking tussen bestuur, spelers en die gemeenskap as ‘n sleutelfaktor vir die sukses van Vredenburg-rugbyklub uitgewys.
“As streekkampioene van 2024 is ons doelwit om weer bo uit te kom, maar ons kan dit slegs bereik deur saam te werk,” het hy gesê.
Afrigters van beide spanne het bevestig dat hulle gereed vir die Derby eerskomende Saterdag is. Volgens Saldanha se afrigter, Randall Julius, bring hierdie wedstryd die beste in albei spanne na vore, terwyl Clement Bouwers, afrigter van Vredenburg-rugbyklub, gesê het dat hoewel hulle ‘n onlangse nederlaag teen Paternoster gely het, hulle gereed vir die groot Derbystryd sal wees.
Die kapteins – Johan Louw van Saldanhabaai en Rowen Syster van Vredenburg – het hul jong spelers aangemoedig, met die hoop dat hulle hul plek in die span sal vestig en die geleentheid sal benut om verder te groei.
Wie gaan met die louere wegstap?
Sal Vredenburg sy wenreeks voortsit of gaan Saldanhabaai ‘n verrassing lewer en vir die eerste keer in vier jaar sy mededingers klop?
Moenie die aksie misloop nie.
Die hoofwedstryd is om 16:00 maar word vooruitgegaan deur wedstryde tussen Diazville Primêr en St. Andrews Primêr se rugbyspanne om 10:30 en om 11:15 gevolg deur die Weskus-vrouespan teen die Berg- rivier-vrouespan om 12:15. Die derdespan-wedstryd skop om 13:30 af en die tweede spanne speel om 14:45.
Ingang by die hek kos R30 vir volwassenes, R20 vir kinders tussen 12 en 18 jaar oud, en R10 vir kinders tussen 6 en 12 jaar oud. Pensionarisse kry gratis toegang met ‘n bewys van ‘n identiteitsdokument. R10 word ook per voertuig gehef.


