Sakelui kyk vorentoe

Die nuwe bestuur van die Velddrif-sakekamer het Donderdag 30 Mei sy eerste ledevergadering gehou en talle planne bekendgestel.


Die nuwe bestuur van die Velddrif-sakekamer het Donderdag 30 Mei sy eerste ledevergadering gehou en talle planne bekendgestel.

Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) in die Wes-Kaap, was die gasspreker by die geleentheid. Hy het by die Soverby-lapa in Dwarskers­bos vertel hoe kleinsake­ondernemings die hartklop van die ekonomie is.

Cilliers het die sakekamer geprys vir die goeie werk wat dié instansie in die Bergrivier-gebied doen.

Hy is van mening entrepreneurskap en die belangrikheid van klein besighede moenie onderskat word nie.

“Die staat kan nie werk vir almal skep nie. Dit is in elk geval nie alleenlik hul verantwoordelikheid om mense ’n werk te gee nie. Daarom is dit belangrik vir die staat, en op grondvlak die munisipaliteit, om middels daar te stel om mense aan te spoor om hul eie ondernemings te begin,” sê hy.

Cilliers sê met die verkiesing van Cyril Ramaphosa as president en Alan Winde as Wes-Kaapse premier, kan sakelui opgewonde wees. Hy sê siende dat al twee hierdie politici sakemanne in eie reg is, verstaan hulle die belang­rikheid van entrepreneurskap.

Die nuutverkose sakekamer is ook sedert Januarie besig om die forum se funksie op te skerp.

Johnny de Silva het ’n voorlegging gedoen oor die sakekamer se nuwe webblad wat spog met interaktiewe kenmerke. Sakekamerlede se ondernemings sal ook op die webblad bemark word met kort uiteensettings van die ondernemings en alle nodige kontakbesonderhede.

Tilman von Zukowski het gesê die sakekamer se boeke is gesond. Hy voeg by lidmaatskap het met 20% toegeneem met amper 50% van die plaaslike ondernemings wat reeds by die sakekamer aange­sluit het.

Die nuwe voorsitter, Dennis Roberts, het vertel die sake­kamer beplan om ’n sake-ekspo aan te bied waar plaaslike ondernemings hulself aan inwoners kan “voorstel”.

Planne vir hierdie geleentheid word nog gefinaliseer, maar Roberts belowe dit sal betyds bekendgemaak word.

Hy nooi sakelui om gerus die Velddrif-sakekamer se nuwe webblad dop te hou vir die jongste nuus. Besoek www.velddrif.info vir inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.