Anton Berkovitz en Simon Wijnberg van Impact-Free Water verlede week by die Weskus-sakekamer se netwerkgeleentheid.


Die Weskus-sakekamer het plaaslike ondernemings en entrepreneurs aangespoor om gebruik te maak van geleenthede in die streek.

Die sakekamer het Donderdag 20 Junie sy maandelikse netwerkgeleentheid by die Weskus-fossielpark gehou.

Anton Berkovitz en Simon Wijnberg van Impact-Free Water het by dié saamtrek meer vertel van hul waterpomp wat branderkrag gebruik om seewater land toe te pomp.

Hulle meen die pomp kan gebruik word vir ontsoutingsaanlegte, elektrisiteitsopwekking en om seewatertoevoer te verskaf, soos in die geval van akwakultuur-aanlegte wat seewater gebruik.

Impact-Free Water is van plan om ’n beginprojek by Danger Bay op te stel. Daar is jare lank reeds sprake daarvan om ’n ontsoutingsaanleg in dié baai te bou en dit is juis dié aanleg waaraan Impact-Free Water hul projek wil vasmaak.

Die pomp is tussen 2009 en 2016 al in Simonstad getoets, maar die Weskus-projek sal Impact-Free Water se eerste kommersiële projek wees.

Indien alles volgens plan verloop, skat hy dat hulle daagliks tussen 20 en 40 kiloliter vars water sal kan voor­sien. Berkovitz sê die maatskappy is op soek na ’n entrepreneur of onder­neming wat iets sinvol met dié water kan doen. Hy sê benewens drinkwater kan die pompe ook gebruik word om elektrisiteit op te wek.

Besprekings is steeds aan die gang, maar volgens Wijnberg beoog hulle om ook ’n projek in samewerking met die plaaslike Militêre Akademie en die Universiteit Stellenbosch te behartig.

Shanah Damonse, voorsitter van die sakekamer, het lede aangemoedig om dit te oorweeg om dié geleentheid aan te gryp.• Besoek www.impactfreewater.com vir meer oor die projek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025