Agter die skerms van die Weskus Sakekamer word daar hard gewerk om nuttige en relevante inligting aan hul lede te verskaf.
Bloedsweet agter die skerms:
Die voorsitter, Darrelle Scheepers, het verlede Donderdagaand by die Hoedjiesbaai Hotel in Saldanha volledige terugvoering by ’n netwerkgeleentheid gegee oor bloedsweet agter die skerms om hul lede se sakebelange te bevorder.
Scheepers sê sy was onlangs by ’n indrukwekkende indaba van die Small Business Institute (SBI), voorheen bekend as die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI), om vas te stel watter geleenthede en voordele hierdie organisasie aan die sakekamer se lede kan bied.
Volgens Scheepers het die AHI homself en sy beeld herontwerp om ’n meer diverse organisasie te word wat alle bevolkingsgroepe, tale en kulture insluit. Sommige bestuurslede wat die AHI se identiteit deels wou behou, het van die SBI afgestig en die Afrikaanse Handelsinstituut Wes-Kaap op die been gebring. Die SBI sowel as die AHI Wes-Kaap het hul voorleggings vir moontlike affiliasie na die Weskus Sakekamer gebring.
Die AHI was voorheen ’n affiliaal van die Weskus Sakekamer, maar Scheepers het gesê die bestuurskomitee het besluit om hulself nie tot ’n enkele organisasie te verbind nie. Die sakekamer is eerder uitsoekerig en kies die beste geleenthede tussen die twee organisasies soos en wanneer dié geleenthede hulself voordoen. Voorts woon die sakekamer gereeld die vergaderings van die grootste nywerhede en ontwikkelings in die Weskus by sodat die nuutste inligting oor projekte, werks- en entrepreneursgeleenthede en opleiding aan hul lede verskaf kan word.
Een van hierdie ontwikkelings is Saldanha se nywerheidsontwikkelingsone (NOS of IDZ in Engels).
Scheepers het gesê die IDZ se vergaderings is tydrowend, maar bywoning hiervan is noodsaaklik sodat die sakekamer op hoogte van die nuutste verwikkelinge kan bly.
’n Spreker van Transnet is na die netwerkgeleentheid genooi om die nuwe R1,2 miljard Saldehco-projek te bespreek, maar Transnet het die uitnodiging van die hand gewys, aangesien inligting nie voortydig oor hierdie projek, wat moontlik teen 2020 sal afskop, nie bekend gemaak kan word nie.
Scheepers het gesê ten spyte van persverklarings wat reeds oor die projek uitgereik is, blyk die betrokke monde tans gesnoer te wees om die bekendmaking van nadere besonderhede te verhoed. Sy het self baie moeite gedoen om inligting oor die projek te bekom, maar sonder enige sukses. Sy het lede meegedeel dat sy nuwe inligting met hulle sal deel sodra dit beskikbaar is.
Lede moet met die sakekamer kommunikeer:
Die sakekamer is besig om kommunikasie met hul lede te verbeter en Scheepers het gevra dat almal wat vraelyste via e-pos ontvang het, dit beantwoord en terugstuur en ook om so gaaf te wees om op ander belangrike korrespondensie te reageer.
“Dis kommerwekkend dat ons meer as 150 lede op ons boeke het en net sowat 10 vraelyste teruggekry het.”
Sy het benadruk dat die Weskus Sakekamer nie gaan weet wat die behoefte van hul lede is as hulle nie hul insette kry nie.
Die bankbestuurder sê nee vir daai lening, wat nou?
Brian Tressider van Working Capital Partners, ’n spreker by die Weskus Sakekamer se onlangse netwerkgeleentheid, het aan gaste die konsep van “afslagbetaalstate” verduidelik wat hul ondernemings met kontantvloei kan help. ’n Betaalstaat wat byvoorbeeld aan ArcelorMittal uitgereik word vir werk wat ’n kontrakteur gedoen het, word deur Working Capital Partners gekoop teen ’n afslag. Ondernemings moet soms baie lank wag vir geld vir werk wat vir groot maatskappye gedoen is wat kontantvloeiprobleme veroorsaak.
Working Capital Partners betaal dadelik die ooreengekome afslagbedrag aan die kontrakteur en verhaal die volle betaalstaatbedrag later by die maatskappy.
Tressider het gesê hierdie finansiering is geskik vir meer gevestigde ondernemings. Mense wat nuwe besighede wil begin, moet elders gaan aanklop.
Vir finansiering vir nuwe ondernemings het Scheepers gesê entrepreneurs moet gaan ondersoek instel by Angel Investments onder die funksie, 12J funds op die Sars-webtuiste.
Nywerhede se behoeftes sal kollege se leerplan bepaal:
Themba Ndaba, kampusbestuurder van die Weskus Kollege in Vredenburg, het aan gaste vertel dié instansie bied kursusse soos ingenieurswese, konstruksie, werktuigkunde, pas en draai, elektries, skrynwerk, sweis, loodgietery asook studies in menslike hulpbronne, bemarking, administrasie en toerisme.
Hy het gesê die kollege maak staat op plaaslike nywerhede om hul leerplan te bepaal. Nie net wil die instansie jong mense bemagtig met bruikbare kwalifikasies vir die 21ste eeu nie, maar ook spesifiek kursusse bied wat die behoefte aanspreek van plaaslike nywerhede wat op soek is na spesialisvaardighede.
Daarom wil hy sien dat nywerheids- en opleidingsinstansies soos die kollege baie meer nou saamwerk.