’n Nuwe bestuur met talle bekende gesigte is vir die Weskus-sakekamer verkies.
Die plan vir 2020 is om meer lede asook meer aktiewe lede te kry om by die sakekamer aan te sluit, het Shanah Damonse, wat nou haar tweede jaar as voorsitter aanpak, gesê.
“Die sakekamer was, namens ons lede, deel van verskeie inisiatiewe en gemeenskaps-projekte. Daar was talle geleenthede waar ons pro-aktief by die gemeenskap, sakelui en rolspelers betrokke was,” het Damonse verduidelik.
Een van die suksesvolle inisiatiewe was ’n beroepsdag wat in samewerking met Hoërskool Vredenburg aangepak is. Damonse het gesê die sakekamer streef daarna om dié geleentheid ’n jaarlikse instelling te maak waar jongmense meer inligting ten opsigte van beroepe en tersiêre studies kan kry.
Die sakekamer was ook een van die rolspelers wat gehelp het met die stigting van Chamber Air, wat vlugte tussen Kaapstad en die Saldanha-vliegveld bied.
Die Weskus-sakekamer het verlede jaar sy eerste gholfdag aangepak en danksy al die harde werk was die dag ’n groot sukses.
Marlu Lennox van Reko het die geldsake voorgelê. Volgens Lennox klop die boeke, hoewel baie sakekamerlede se ledegeld agterstallig is.
Uitgawes het ten opsigte van die vorige boekjaar gestyg aangesien bestuurslede se reis en verblyf nou deur die sakekamer betaal word.
Volgens Damonse is dit ongelukkig só dat wanneer ’n organisasie skouer aan die wiel begin sit, meer uitgawes daarmee gepaard gaan.
Benewens die geldsake is ’n nuwe bestuur ook verkies. Vyf tot agt lede word daarvoor benodig met vyf lede die minimum.
Die nuwe bestuur is met vyf benoemings en Damonse wat as voorsitter aanbly, sonder ’n verkiesing ingehuldig.. Besoek die Weskus-sakekamer se webblad by weskussakekamer.co.za vir plaaslike sakenuus en ander geleenthede.