Die tyd van die jaar het aangebreek wanneer die jaar se moegheid skynbaar op die meeste mense se gesigte geëts is en gemoedere hoog loop. Of dit is net waar vir die werkersklas wat heeljaar skouer aan die wiel gesit het en net weke weg is van ’n welverdiende Desember-vakansie om hul batterye te herlaai.
Jaar ná jaar begin ’n mens daaraan gewoond raak dat mense se geduld ietwat minder is hoe nader die jaar aan sy einde kom, hetsy weens hoër werkslading om laaste spertye te haal, ouers wat die eksamenstres saam met hul kinders ervaar, finansiële stres by die gedagte van allerlei ekstra uitgawes wat gewoonlik dié tyd van die jaar insluip, of net bloot uitbranding ná ’n lang of emosionele jaar wat dalk verliese meegebring het.
Statistiekgewys is dit egter die tyd van die jaar wat die jaar se spanning sy tol eis en daar mense is wat net nie meer die moed het om die lewe in die oë te kyk nie. Dikwels is dit net ’n verkeerde blik of woord wat iemand finaal breek en hoewel so iets onvoorspelbaar is, kos vriendelikheid en ’n bemoedigende woordjie absoluut niks. Dalk is dit nét die ding wat iemand weer ’n bietjie vertroue in sy medemens en hoop vir die toekoms gee.
Gaan versigtig om met jou woorde. Spreuke 15 sê dit so mooi: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.”
Onthou ook die tong bly die magtigste swaard en woorde wat gespreek is, kan nie ongedaan gemaak word nie. Ons weet nie wat in iemand anders se lewe aangaan nie. Diegene met die helderste glimlagte steek dikwels die grootste seer weg.
Beklee jou met die gees wat die feesseisoen bring – een van vergifnis, behulpsaamheid, medemenslikheid en liefde.