Die Run West 2024-strandwedloop wat op Sondag 22 September in die Strandfontein- en Doringbaai-omgewing plaasgevind het, het ’n rekordopkoms van 240 inskrywings ontvang.
Deelnemers het die voorreg gehad om ’n ongerepte deel van die Weskus te deurkruis wat min mense in voertuie ooit bereik.
Dom de Jesus het die strandwedloop in 2021 begin om geld vir Protect the West Coast (PTWC) in te samel. Dié organisasie beywer hom daarvoor om ongekontroleerde en vernietigende mynbou aan die Weskus te stop.
De Jesus sê die aantal inskrywings, wat sedert verlede jaar meer as verdubbel het, het gesorg dat alle gastehuise in Doringbaai en Strandfontein asook die kampeerplekke vir die Erfenisdag-langnaweek vol bespreek was.
“Ons is baie opgewonde om by te dra tot die plaaslike ekonomie, wat ook klein ondernemings en verkopers insluit wat saam met ons werk om roosterkoek- en potjiekos-etes vir hardlopers, ondersteuners en gesinne te verskaf, om nie eens te praat van verversingstasies op pad nie,” sê hy.
Deelnemers kon die 21 km-roete van Papendorp naby die oewer van die Olifantsrivier langs strande, kranse en paaie via Strandfontein tot by Fryer’s Cove in Doringbaai kies – ’n roete deur een van die mees ongerepte dele van die Weskus.
Of hulle het die 10 km-roete van Strandfontein tot by Fryer’s Cove gehardloop.
Aan die begin van die 21 km-wedloop by Papendorp, ’n bekende vissersgemeenskap wat staatmaak op die biodiversiteit van die nabygeleë Olifantsriviermond vir hul bestaan, het visservroue sowat 130 hardlopers in ’n spesiale seremonie met liedere en ’n gebed geseën.
Mike Schlebach, direkteur van PTWC, beskryf Run West as die perfekte voorbeeld van ’n volhoubare natuurgebaseerde oplossing om die vernietigende aard van onvolhoubare mynbou teë te werk.
“Ons moedig eerder geleenthede en aktiwiteite in harmonie met die omgewing aan wat welgestelde besoekers lok en werk aan gemeenskappe verskaf, terwyl broodnodige hulpbronne in die streekekonomie ingespuit word.”
Vanjaar se geleentheid is moontlik gemaak deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die Matzikama-munisipaliteit, Namaqua Wines SA, Reduce Reuse Co en Cederberg-brouerye.