Met die nuwe rugbyseisoen wat binnekort begin, maak spanne in die Weskus-streek hulle slaggereed vir wat wag.
Met vriendskaplike wedstryde wat nog as deel van klubs se voorbereiding gespeel word, kan daar dié seisoen heelwat verrassings wees.
Vredenburg gee tans die pas aan in voorbereiding, maar die liga word nooit in ’n voorseisoen gewen nie.
Saldanha, ’n voormalige Boland-kampioen, sukkel om sy vriendskaplike wedstryde te wen en moes nou reeds twee keer die knie buig.
Dié span kan egter nooit afgeskryf word nie en die vermoede dat hy sy bestes vir die top-8-toernooi hou, kan ook nie uitgesluit word nie.
Die grootste verrassing hierdie seisoen is die insluiting van Steenberg’s Cove in die Grootuitdaag-reeks. Niks moet egter van die span weggeneem word nie, aangesien hy sedert sy toetrede tot klubrugby nog net van krag tot krag gegroei het. Dié span, wat in twee seisoene tot Boland se topliga bevorder is, kan gewis nie ligtelik opgeneem word. Cove het dit reeds bewys toe hy Velddrif onlangs in ’n vriendskaplike wedstryd geklop het.
Vredenburg lyk ook lus vir die seisoen en het reeds met Saldanha en Wesbank afgereken.
St. Helenabaai, wat verlede seisoen deur die noodlot getref is, het Darling Saterdag op die Byenes getroef.
Met ligaverpligtinge wat reeds op 2 Maart begin, sal Cove na Vredenburg reis. Saldanha sal in sy eerste wedstryd Piketberg onthaal, terwyl St. Helenabaai ’n loslootjie het. Die Weskus-kampioen, Mamre, wat ook sy merk in vriendskaplike wedstryde maak, sal in sy eerste wedstryd na Paternoster reis, terwyl die manne van die Grafkelder Langebaan vroeg sal wil begrawe. Mamre se groen truie het ook nie aan sewestoernooie deelgeneem nie en het eerder op die vyftienmankode gefokus.
Velddrif sal Hopefield in sy eerste wedstryd onthaal.