Ses leerders van die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg pak binnekort hulle rugbystewels vir ‘n internasionale 7’s-toernooi oorsee. Dié groepie talentvolle spelers is tans besig met ‘n broodnodige geldinsame- lingsprojek om hul rugbydroom ‘n geldelike hupstoot te gee.
Die ses spelers – Arno Marais, Tiaan Badenhorst, Cenanto Lakabane, Caleb de Bruin, Frederick Bester en Keanu Crow – is gekies vir ‘n internasionale Barbarianspan wat volgende maand (Desember) in Auckland, Nieu-Seeland, aan die Global Youth-7’s-toernooi vir o.18-spelers gaan deelneem.

Veertig seunsspanne van lande soos onder andere Nieu-Seeland, Ierland, Australië, Chile en Samoa gaan in Auckland kragte meet. Dit is die eerste keer sedert die toernooi se ontstaan in 2016 dat spelers van Suid-Afrika sal deelneem.
Die ses Suid-Afrikaanse spelers van Moorreesburg vorm die Barbarianspan saam met drie spelers van Nieu-Seeland, twee van Wallis en een van Zimbabwe.
Volgens Hein Gunter, die skoolhoof, bestaan die skool reeds byna 150 jaar en het dit tans sowat 400 leerders. “Die Hoërskool Dirkie Uys is klein, maar sportgedrewe. Ons het ‘n volledige sportprogram met onder meer rugby, netbal, hokkie en atletiek. Die ses spelers se insluiting in die Barbarianspan bied goeie en welkome blootstelling vir die skool.”
Die spelers se afrigter en onderwyser by die skool, G. J. Venter, swel behoorlik van trots en prys sy leerders vir hul toewyding en prestasie. “Die ses is baie talentvol en die toernooi in Auckland bied die spelers goeie oorsese blootstelling. Dit bied ook die geleentheid vir moontlike na-skoolse sportbeurse.”
‘n Spesiale geleentheid om geld vir die spelers in te samel, word Saterdag (15 November) by die bekende Weskus-eetplek Harbour View Restaurant in St. Helenabaai gehou. Bekende rugbypersoonlikhede soos onder andere die oud-Bokafrigter Peter de Villiers is ván die rugbybekendes wat die geleentheid gaan bywoon. Die propvol program sluit ook ‘n veiling in van rugby-aandenkings en ‘n TV-uitsending van die kragmeting tussen die Springbokke en Italië.
• Kontak Warren Edwards by info@rugbyworldwide.co.za of 076 583 9987 vir nog inligting en besprekings.





Foto’s Danie Hefers.



You must be logged in to post a comment.