Die opkomende sterre van die Royal Dance Academy West Coast. Foto: Sonja Kruger

Die passievolle ballerinas van die Royal Dance Academy West Coast het onlangs die Weskus-gemeentskap vermaak met ‘n opvoering van die tydlose sprokie, Aspoestertjie.

Die dansers het in pragtige kleurryke kostuums op die verhoog gestraal terwyl die betowerende musiek elke beweging beklemtoon het. Hulle het die karakters met passievolle en elegante danspassies lewe gegee – van die nare stiefdogters se dramatiese streke tot die muise wat Aspoestertjie met veelsydige sjarme opgetower het.

Volgens Corné du Plessis, hoof van die RDA, was die opgewondenheid groot oor die skool se eerste balletkonsert, die tema, die items én die kostuums.

Corné du Plessis (agter) van die Royal Dance Academy West Coast saam met (van links) Abbigail Jordaan (6), Riley Julies (9) en Amoray de Kock (9).
Corné du Plessis (agter) van die Royal Dance Academy West Coast saam met (van links) Abbigail Jordaan (6), Riley Julies (9) en Amoray de Kock (9).

RDA se ballerinas van Hopefield, Saldanha en Vredenburg is tussen 2-21 jaar oud. Hulle het die voorreg gehad om saam met verskeie dansers van die Vredenburg-dansskool wat as gaskunstenaars opgetree het, gewys wat bereik kan word met deursetting.

“Dit het harde werk gekos om die dansertjies uit verskillende dorpe bymekaar te kry om in sekere items te kon saamdans.”

Van saam oefen op Saterdae, tot by die kleedpetisie, het elke danser op die verhoog verskyn sonder om enige vrees te wys. “Hulle harde werk en passie was duidelik in elke item.”

Du Plessis staan trots saam elke liewe ouer, familielid, vriende en mede-onderwysers vir die waardering, ondersteuning en die liefde vir dans.

Die RDA het met dié konsert die jaar op ‘n hoë noot afgesluit en sien huit na nuwe verwikkelinge in 2026.

Die Vredenburg-dansskool staan onder leiding van Dina Fourie, ‘n ervare balletonderwyseres met 56 jaar ondervinding en ook al 40 jaar ‘n gekwalifiseerde Royal Academy of Dance-instrukteur.

Die dansskool het al groot hoogtes bereik en dié vertoning was Fourie se dogter, Du Plessis, se eerste konsert as geregistreerde Royal Academy of Dance-instrukteur. Du Plessis is reeds sedert 2010 onder Fourie se mentorskap.

Die Vredenburg-dansskool pronk vanjaar met sy eerste seunsklas vir die ouderdom ses tot agt jaar.

Volgens Fourie gaan dit oor soveel meer as net dans. “Balletklasse bied meer as net selfdissipline, stiptelikheid en netheid. Dit bou ook aan kinders se selfvertroue en verbeter hul selfbeeld.”

Sy voeg by dat baie gesinne vandag met uitdagings worstel, waaronder afwesige vaders. Sy meen ballet is ‘n veilige plek waar alle kinders ondersteuning kry.

Deur ballet en haar ervare onderrig probeer sy sekere waardes by haar studente vestig – dissipline, menswaardigheid, respek vir ander, verbeterde konsentrasie, fokus en gesonde leierseienskappe. “Dans help kinders om hul emosies op ‘n gesonde manier uit te druk. Dit help bou aan hul karakter en gee hulle iets om op trots te wees,” glo Fourie.

Die Vredenburg-dansskool wil graag die gemeenskap bedank vir elke omgeehart wat tot die Vredenburg-dansskool se groei en die ondersteuning vir Du Plessis se loopbaan en klasse in Hopefield bydra. “Die teenwoordigheid van die dansfamilie is meer as wat woorde kan beskryf.

“Met meer as vier dekades van passie, toewyding en talent bly die Vredenburg-dansskool ‘n ligpunt in die gemeenskap – ‘n plek waar drome dans en kinders kan groei,” het Fourie gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 December 2025
    Weslander E-Edition – 18 December 2025

Gift this article