Die Vredenburg-polisie ondersoek twee voorvalle van gewapende roof en tydens een is ’n 15-jarige meisie na bewering ook verkrag.
Volgens kapt. Tania Helfrich, Weskus-polisiewoordvoerder, het twee meisies, 14 en 15 jaar oud, die afgelope Saterdagaand (28 September) omstreeks 20:00 in Tsitsiratsitsi gestap toe twee mans hulle oorval het.
Die rowers – een met ’n klapmus en die ander een met swart klere aan – het die meisies met ’n vuurwapen gedreig en van hul geld beroof.
Die 15-jarige meisie is glo na ’n huis in Sinkstraat in die naburige Ongegund-woonbuurt gedwing, waar een van die rowers haar na bewering verkrag het.
Die Vredenburg-polisie ondersoek klagtes van gewapende roof en verkragting.
Nog ’n gewapende rooftog is Sondagoggend 29 September aangemeld. ’n Man was omstreeks 03:30 op pad terug na sy blyplek in Tsitsiratsitsi toe twee mans wat hom agtervolg het, hom van sy baadjie en identiteitsdokument beroof het.
Een van die mans blyk toe ’n rower met ’n vuurwapen te wees en het hom by sy blyplek gedreig terwyl die ander een hom met pepersproei gespuit het.
Een van die rowers het ook ’n klapmus aangehad. Die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof.