‘n Lyk wat op 8 November verlede jaar in ’n sloot by die afvalstortingsterrein in Oostewalstraat, Langebaan, gekry is, het skokgolwe deur die gebied gestuur.
Twee mans, Aylwin Magalies (39) en Monray Pietersen (31), is dieselfde dag in hegtenis geneem vir die moord en ontvoering van die 43-jarige Monwabisi “Roots” Nkonki. Hy is gereeld by die parkeerterrein net voor die strandmeer te siene gewees.
Magalies en Pietersen is vandeesweek (Dinsdag 12 November) in die Vredenburg-streekhof, skuldig bevind op aanklagte van moord en ontvoering.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie, is Nkonki verskeie kere gesteek en op die toneel dood. Vandat sy lyk omstreeks 08:00 gekry is tot die eerste inhegtenisneming het die Langebaan-polisie onder leiding van speursers. Heinrich du Toit, die ondersoekbeampte in die saak, onverpoosd inligting opgevolg. Hul harde werk het gelei tot Magalies en Pietersen se inhegtenisnemings kort na mekaar.
Daar is ook beslag gelê op die voertuig wat gebruik is om die oorledene mee te ontvoer.
Die moordenaars het elke 25 jaar gevangenisstraf gekry op die aanklag van moord en 5 jaar gevangenisstraf vir die aanklag van ontvoering.
Du Toit is geprys vir sy toewyding deur onmiddellik leidrade op te volg. Dit het, volgens Helfrich, daadwerklik bygedra tot die spoedige inhegtenisneming van skuldigdes.




