Die lyk van die 43-jarige Monwabisi Nkonki is Vrydag (8 November) omstreeks 08:30 by die stortingsterrein in Oostewalstraat, Langebaan, aangetref.
Nkonki staan in die gemeenskap as “Roots” bekend. Hy is gereeld by die parkeerterrein net voor die strandmeer gesien.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, is Nkonki se lyk Vrydag met verskeie steekwonde in ’n sloot by die stortingsterrein gekry.
Helfrich sê twee verdagtes, Alvin Magalies (38) en Monray Pietersen (30), is in hegtenis geneem – die een Vrydagaand en ’n tweede Saterdagoggend (9 November).
Albei verdagtes het Dinsdag (12 November) in die Hopefield-landdroshof op ’n aanklag van moord verskyn.
Die verdagtes is nie borgtog toegestaan nie en bly in aanhouding.