Rolbalklub se Lentesakeliga sluit af

Die wenners van die Lagoon-rolbalklub in Langebaan se Lentesakeliga het onoorwonne uit die stryd getree – Headline Blinds se gedugte span het ses weke lank elke week as die wenner van die baan gestap.


Die wenners van die Lagoon-rolbalklub in Langebaan se Lentesakeliga het onoorwonne uit die stryd getree – Headline Blinds se gedugte span het ses weke lank elke week as die wenner van die baan gestap.

Hulle het ook hul wedstryd in die eindronde op Woensdag 16 Oktober gewen. Oxigym het tweede geëindig en Ecosport derde.

Dit was baie van die deelnemende spanne se mening dat indien daar ’n geesbeker te verower was, Oxigym met dié trofee sou gepronk het.

Die wedstryde is meestal in goeie gees gespeel met ’n paar spelers wat hulself as uiters vernuftige rolbalspelers onthul het. Met enkele uitsonderings het goeie sportmangees geheers en solank daar regverdig met die meet van die balle naaste aan die wit balletjie omgegaan is en die spanne mekaar respekteer het, het selfs die verloorders met glimlagte op hul gesigte huis toe gegaan.

Nuwe vriendskappe is gesmee en bande vir toekomstige samewerking op professionele vlak is daargestel.

Die toegewyde en entoesiastiese span van die Lagoon-rolbalklub het van 10 September af bontgestaan om die spanlede individueel die fynere kunsies van rolbal te (probeer) leer. Die baan was elke Dinsdag en Donderdagaand netjies versorg met die balle wat reeds in rye uitgepak is wanneer deelnemers opdaag. Oor wie met watter bal wou speel, was soms ’n tameletjie – veral vir die mans en vroue met kleiner hande, maar selfs dit kon nie die geesdrif demp nie.

Die feestelike atmosfeer gemeng met die toets van elkeen se vernuf in die vars buitelug het soveel byval gevind dat veertien spanne reeds vir die Herfs-sakeliga ingeskryf het. Dit begin in Maart volgende jaar.

Bel Herman van Lill by 083 652 1712 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.