Die drama Bye bye, Slippersbaai, ‘n verwerkte eenmanstuk wat sy debuut in Junie by die Bakman-teater in St. Helenabaai gemaak het, word weer op Vrydag 11 Julie en Vrydag 25 Julie opgevoer.
Elton Lesch het die stuk geskryf en voer dit op met Elmarie van Zyl, Dasnique Moya en Quinton Makok, wat die ander rolle vertolk. Hulle is almal plaaslike inwoners van St. Helenabaai, wat ook hul debuutbuigings maak.
Hierdie stuk vertel van ‘n visserman se liefde vir sy geboorteplek teen die agtergrond van die destydse gedwonge verskuiwings. Ná die openingsaand was teatergangers vol lof vir die stuk.
Dié lag-met-‘n-traan-stuk is eie aan Lesch se skryfstyl en sy vermoë om plaaslike stories te vertel. Kaartjies kos R110 per persoon, R90 wanneer vyf of meer bespreek en R90 vir pensioentrekkers.
Bel Lesch by 076 859 2167 vir besprekings.