Vir ’n voertuig om die Europese Motor van die Jaar-toekenning te wen, is ’n uitsonderlike prestasie.
Opel Astra het hierdie gesogte toekenning in 2016 verwerf en met goeie rede ook. Dis Duitse presisie en tegnologie op sy beste.
Die Opel Astra is nou plaaslik beskikbaar en die uwe het gaan uitvind of die Opel Astra 1.4 T Sport die toekenning verdien.
Die onomwonde antwoord is ’n besliste ja. Tegnologies is die motor op die voorpunt van hedendaagse ontwikkeling.
Ná ’n kort kursus by die handelaar (jy moet om al die funksies ten volle te verstaan) is ek beïndruk deur al die gevorderde spesifikasies.
Wat het my beïndruk? Sleutellose toegang en aanskakel van die motor, die gehalte van hantering en stewigheid van die voertuig, mooi en sagte lyne op die oog. (Moet dus ’n sy wees.) Dan ook die ruimte binne die voertuig asook die bagasiebak se ruimte. Regte Duitse vakmanskap.
Voeg daarby die funksies/sensors wat dit vir die bestuurder makliker en veiliger maak om die motor te hanteer soos: Alarm word geaktiveer as jou volgafstand nie voldoende is nie. Indien jy onbewustelik jou baan verlaat, bring die blikbrein van die motor jou terug in die baan. Handvrye parkering, maar die bestuurder moet nog steeds die petrol en rempedaal gebruik. Dames, moenie kwaad word nie, maar hierdie funksie is spesiaal vir julle wat nie in spieëls glo nie, en nog steeds jul nek uit lit draai om tru te stoot.
Die blikbrein herken ook spoedtekens langs die pad en sal op die instumentepaneel die toegelate spoed weergee. Die voertuig beskik oor al die luukshede soos klimaatbeheer, kragstuur, spoedkontrole, klankstelsel, wegvoubare kantspieëls en nog vele meer. Die turbo-aangedrewe 1.4 enjin skop 110 kW uit, lekker kragtig, en petrolverbruik is getoets op 5.5 liter per 100 km.
Die Opel Astra ding beslis mee met die ander ewe bekende Duitse fabrikate, maar gaan jou sak minder ruk.
Die Opel Astra 1.4 T Sport met outomatiese ratkas kos R374 000 en spog met ’n vyfjaar- of 120 000 km-waarborg. Gaan gesels gerus met die verkoopspan van Weskaap Motors, Vredenburg, of skakel 022 713 1235 vir ’n demonstrasie. – Innes van Eeden