’n Inwoner van Langebaan is stomgeslaan oor hul hoë munisipale waterrekening.
Die inwoner het aan Weslander vertel dat die skok einde Julie gekom het met ’n rekening van sowat R16 980, waar dit gewoonlik tussen R1 000 en R1 900 ’n maand is. Soos die inwoner verduidelik het, het sy en haar man ’n erf in Langebaan gekoop en in 2020 begin bou.
“Ons het begin met papierwerk by die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) vir aansoeke om water-, riool- en vullis-aansluitings. Die betaling vir die aansluitings is ingesluit in die bedrag van R4 078,10. Ons het in September ’n rekening van die SBM begin kry, waarop net tariewe, riool en vullis is, maar geen watergebruik was nie. Ek het maandeliks kontak gemaak met SBM om uit te vind wat aangaan, maar niemand kon my ’n regte antwoord gee nie,” vertel sy.
Met maandelikse betalings aan die munisipaliteit soos deur hul rekening aangedui en met geen agterstallige betalings nie, was die enorme bedrag ’n groot verrassing vir die paartjie. Ná heelwat kommunikasie en navrae het die inwoner vasgestel dat SBM ’n fout gemaak om nie watergebruik op die rekening aan te dui nie. Wat verstommend is vir die paartjie is hoe dié fout vir die afgelope vier jaar nie deur die SBM gesien is nie.
Volgens Tereza Burger, ’n woordvoerder van die SBM, het die verbruiker in 2020 aansoek gedoen om dienste en ’n rekening is in hul naam geopen. “Die munisipaliteit het verkeerdelik voortgegaan om waterverbruik op die rekening van die vorige eienaar te hef. Die fout is onlangs opgetel en alle heffings is na die rekening van die huidige eienaar oorgeplaas. Die eienaar is behoorlik hieroor ingelig en het erken dat hulle die water gebruik het. Daar was ook ’n verantwoordelikheid op die eienaar om ons naaste munisipale kantoor te besoek en navraag te doen oor hoekom waterverbruik nie op hul munisipale rekening gereflekteer is nie. Die munisipaliteit het nie ’n rekord dat die eienaar ons munisipale kantore besoek het tot onlangs toe die rekening aangepas is nie,” voeg Burger by.
Hoewel die inwoners nie die kantoor besoek het nie, beklemtoon hulle daar is by verskeie geleenthede met die munisipaliteit kontak gemaak – sonder enige sukses. Die inwoner wonder ook oor hoeveel ander mense deur dieselfde situasie gaan en voel die munisipaliteit moet aanspreeklik gehou word vir hierdie soort probleme. Burger voeg by die eienaar het ’n dispuut verklaar waarop die munisipaliteit gereageer en aangedui het die rekening wat afgelewer is, is akkuraat en bly betaalbaar. “Die eienaar het toe appèl aangeteken en die appèl word tans deur die appèl-owerheid oorweeg.”