Die Laaiplek-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) hou op Dinsdag 17 September om 18:00 sy jaarvergadering in die Velddrif-stadsaal.
AO Adele Visser het benadruk dat alle gemeenskapsorganisasies uitgenooi word om die vergadering by te woon. “Die GPF skep ’n belangrike platform vir rolspelers om saam te verseker dat in die gemeenskap se behoeftes voorsien word,” het sy gesê.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet maak juis daarom voorsiening vir GPF’s om gemeenskapsorganisasies en die polisie in vennootskap saam te snoer om oplossings vir veiligheids- en sekuriteitskwessies te kry. Die GPF bevorder ook samewerking tussen die partye om die gemeenskap teen misdadige aktiwiteite te beskerm en dus ’n veilige omgewing te skep.
’n Tweede funksie van die GPF is om as ’n burgerlike liggaam die plaaslike polisie se doeltreffendheid, verantwoordbaarheid en deursigtigheid te kontroleer en te bevorder.
“Die toename in misdaad in ons gebied vereis dat ons almal moet help toesien dat die GPF die polisie doeltreffend bystaan om maniere te vind om misdaad te bekamp en met ons gebied se spesifieke probleme te werk,” het Visser gesê.
Alle belangstellende organisasies word gevra om as GPF-lede te registreer en hul verteenwoordiger te benoem.
Die verteenwoordiger moet asseblief vóór die vergadering ’n aansoekvorm voltooi. Die vorm kan afgehaal word by Judy Theron tydens kantoorure by die Laaiplek-polisiekantoor.