LANGEBAAN – “Wit skuim het by haar mond, neus en ore uitgekom. Ek was nie hoopvol nie, maar het steeds onmiddellik met noodhulptoepassing op haar begin.”
Só beskryf een van die helde in ‘n dramatiese reddingspoging die toneel wat hom die afgelope Saterdag (11 Oktober) in die Langebaan-strandmeer by die bekende Shark Bay in die dorp afgespeel het. Twee vroulike vakansiegangers het vroegmiddag met ‘n dubbelkajak in die strandmeer gaan roei toe hulle in die moeilikheid beland en byna verdrink het.

Volgens Bernard Pieters, wat saam met sy gesin langs die strandmeer ontspan het, het hulle iemand in die water hoor roep en skreeu.
“Twee vroue was in die water en ons kon duidelik sien hoe hulle kajak wegdryf. Ek en my vrou, Petro, het hulle onmiddellik te hulp gesnel. Ons kon egter net tot by die dieper water vorder. ‘n Hengelboot van Langebaan en ‘n kanovaarder het ook intussen vinnig nader aan die toneel beweeg om te help.”
Volgens Pieters was dit egter gou duidelik dat een van die vroue, wat op die hengelboot gelig is, dringende noodhulp benodig.
“Ek en Petro het toe om die beurt mond-tot-mond asemhaling en KPR op haar toegepas totdat mediese hulp opgedaag het.”

Volgens Nic Stevens, die stasiehoof van die NSRI se Stasie 4 by Club Mykonos, is reddingspanne net na 15:00 die middag uitgeroep, ná berigte van ‘n verdrinking by Shark Bay in die strandmeer.
“Twee vroue is gered deur onderskeidelik ‘n hengelboot en ‘n kanovaarder. Een van die vroue het op die oog af leweloos met haar gesig ondertoe in die water gedryf. Noodhulp is egter op haar toegepas en haar polsslag is herstel. Sy is daarna in ‘n kritieke toestand met ‘n ambulans van West Coast Medical Rescue vanaf die Langebaan-seiljagklub na ‘n hospitaal geneem. Haar vriendin is ook in ‘n stabiele toestand hospitaal toe gehaas en het reeds volkome herstel.”
Volgens Stevens is die twee vroue van Gauteng en KwaZulu-Natal en is beide 33-jaar oud. Hy sê dit blyk dat hulle ‘n dubbelkajak gehuur het, waarna hulle op die strandmeer in die moeilikheid beland het.
Stevens het diegene wat by die reddingspoging betrokke was, geloof vir hulle vinnige optrede en hulle as Goeie Samaritane beskryf.
Volgens Pieters het ál die betrokkenes ‘n deurslaggewende rol in die reddingspoging gespeel.
“Die voorval het in ‘n stil, afgesonderde gebied van die strandmeer gebeur. Dit is ‘n wonderwerk dat ons daar was.”
Beide vroue het intussen volkome herstel en is uit die hospitaal ontslaan.



You must be logged in to post a comment.