Ná drie en ‘n half jaar groet Weslander en Weskus Nuus se redakteur, Maryke Swart, die Weskus. Sy keer terug na haar tuisdorp in die Paarl waar sy die stoel as streekredakteur van Paarl Post en Standard Breederivier Gazette inneem. Sy bly egter die redakteur van Swartland Gazette in Malmesbury.

Volgens Swart was haar tyd by Weslander iets wat sy vir niks sal verruil nie.

“Daar was vele uitdagings en veranderings – waarskynlik die grootste die Media24-besluit om sy gemeenskapskoerantportefeulje aan Novus Holdings te verkoop. As span het ons egter saam die wa deur die drif getrek en staan ons maande later opgewonde oor wat die toekoms vir gemeenskapskoerante in die Suid-Afrikaanse medialandskap inhou.

“Daarmee saam sal die Joshlin Smith-saak my vir ewig bybly as een van die skokkendste verhale waarvan die legkaartstukke seker nooit almal sal pas nie.

Hoogtepunte

“Wat hoogtepunte betref, was die besluit om in Junie verlede jaar ons omslagprys na R4 af te bring om die koerant meer toeganklik vir ons lesers te maak, definitief hoog op die lys, en dan natuurlik ons Vroueoggende.”

Met die Weskus en sy skoonheid meen Swart haar lysie dinge wat sy gaan mis, is baie lank, maar in kort sal sy die ongerepte natuurskoon en die mense self altyd koester.

“Die Weskus het maar net ‘n manier om diep in ‘n mens se hart in te kruip. Ek het veral ‘n spesiale plek in Velddrif/Laaiplek gevind – van koffie en crossaints in Bokkomlaan tot ‘n draai ry by Die Bek om – en dan my stukkie hemel op aarde – Rooibaai. Ek het ook lewenslange vriende hier gemaak en sien uit om nog baie te kom kuier,” sê Swart.

Gemeenskap

Sy meen Weskussers gee werklik betekenis aan die woord “gemeenskap”. “Dit is iets wat ek oor die afgelope paar jaar keer op keer kon sien, hoe mense saamstaan vir een doel – hetsy ‘n geldinsameling vir iemand met ‘n ernstige mediese toestand, ‘n talentvolle jong sportman of -vrou wat hulp benodig om hul drome te verwesenlik, feeste wat aangebied is om gemeenskapsbetrokkenheid en samesyn te kweek, soekgeselskappe na vermiste mense of net die interaksie en trots wat mense oor mekaar uitgespreek het.

“Een van die mooiste praktyke vir my natuurlik was die jaarlikse Hawediens, waar seën oor die plaaslike vissermanne voor die begin van die visseisoen in Januarie uitgespreek word. Dit spreek ook van die sterk gemeenskapsbande.

“Aan my kollegas by Weslander – dit was ‘n voorreg; julle is voorwaar ‘n veerkragtige span met soveel kundigheid en ‘n hart wat warm klop vir jul gemeenskap. Doen so voort!”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025