Daar is drie dinge in die lewe wat mense beslis bymekaar bring: musiek, lekker kos en sport. Al drie hierdie komponente is ervaar by die 2025 Visfabrieketoernooi.
Toeskouers en spelers van wyd en syd, selfs buite die Weskus, het op Vrydag 24 en Saterdag 25 Oktober in groot getalle dié toernooi bygewoon om sokker-, rugby- en netbalspanne te sien meeding.
Groot opgewondenheid, samesyn en gees het op dié twee dae geheers. Dit wys weer eens wanneer gemeenskappe saamstaan, is enigiets moontlik en daar is soveel mooi dinge in die lewe om te vier.
Gemeenskappe wat saamstaan, is belangrik om individue te versterk, gedeelde probleme op te los, veerkragtigheid te bou en maatskaplike verandering te dryf. Dit is ook waar die betekenis van ubuntu ‘n groot rol speel.
Tydens die toernooi was dit wonderlik om te sien hoe mense nuwe bande bou en bloot vergeet van die alledaagse uitdagings, al was dit net vir ‘n oomblik. Om te sien hoe teenstanderspanne mekaar met motivering aanmoedig, was beslis ‘n hoogtepunt, veral wanneer spanne dit nie tot die volgende ronde gemaak het nie.
Hierdie praktyk moet ons as samelewing in ons daaglikse lewe probeer implementeer, of dit nou by die werk saam met kollegas, by die skool saam met klasmaats of bloot in die gemak van ons huise tussen vriende en familie is.


