Die Weskus ervaar vir minstens een week ‘n gevoel van vreugde omdat planne uitgewerk en geregtigheid geskied het.

Twee mans, wat vir twee jaar teen hul sin en duidelik onskuldig in ‘n tronk in Afrika moes sit terwyl staatsamptenare en howe speletjies gespeel en hul spiere gebult het om te kyk wie die meeste mag het, is uiteindelik vry.

Langebaan verwelkom Peter Huxham tuis.

Hy en sy kollega, Frik Potgieter, van George, is op 9 Februarie 2023 in Ekwatoriaal-Guinee in hegtenis geneem en is die hele tyd nog in haglike omstandighede aangehou. Vriende en familie het ‘n drukgroep begin om vir hulle vrylating te baklei.

In ander sake: Hoewel die vermoorde netbalafrigter Elrico “Rico” Byl (27) nooit weer deur sy familie vasgehou sal kan word of trane van vreugde met hulle sal kan deel nie, is daar ten minste die troos dat geregtigheid geskied het.

Sy moordenaar, Wesley Snyders, ook ‘n inwoner van Diazville, Saldanha, is verlede Dinsdag (24 Junie) in die Vredenburg-landdroshof 25 jaar tronkstraf opgelê.

Rico se lyk is in Januarie 2024 op die strand by Tabakbaai naby Diazville gekry, ná ‘n grootskaalse soektog deur die gemeenskap.

‘n Klein veldslag is in die oorlog teen die golf van misdaad in die Weskus gewen.

Met tye voel en lyk dit nie of die polisie enigsins hond haar-af maak teen die oormag nie, maar gevalle waar ‘n skuldige ‘n ordentlike vonnis kry, gee hoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025