Marius Bester, kruiekenner en Rastafariër van Louwville, Vredenburg sê kruierate word grootliks in vandag se mediese wêreld onderskat waar kunsmatige en chemiese geneesmiddels die mark oorheers.
“Die grootmense (met verwysing na die ouer geslag) het almal geweet van die medisyne van die veld,” vertel hy.
Hy sê baie min mense beskik deesdae oor hierdie kennis, maar daar bestaan tog kruiedokters wat nog die geneesmiddels van die natuur ken wat kan bydrae tot hul pasiënte se gesondheid.
Hy deel graag ’n paar kruiegeheime met Weslander se lesers:
.Vir sinuskwale:
In Knysna oes hy ’n “Nieshout”. Dis ’n tipe boombas wat hy fynmaak en dan word dit gesnuif om hardnekkige slym los te maak.
Mens kan ook ’n tee met roosmarynblare en -takkies stook. Drink dit om jou sinusdrup te laat opdroog en vir die verligting van ’n benoude bors.
. Stres, moeë lyf en voete:
Gooi laventelblare in jou bad en ontspan daarin. Brand laventel in die huis om van spanning en onrustigheid ontslae te raak.
.Sonbrand:
Wilde dagga en bitter aalwyn trek nie net ’n sonbrand in ’n japtrap uit nie, dit bring ook groot verligting vir seer brandwonde. Marius meng gewoonlik die bestanddele in ’n salf vir maklike aanwending.
. Sooibrand, maagpyn en babelas:
Marius maal ’n plantwortel uniek aan die Weskus fyn. “ ’n Mens drink dan die poeier soos ’n Grandpa-poeier,” verduidelik hy.
Dis Marius se droom om eendag ’n sakeman te word. Hy wil sy produkte bemark en verkoop, maar vir nou is hy die versorger van die kruie by die gemeenskapstuin in Louwville, agter Hoërskool Weston.
Die tuin is ’n werkskeppingsprojek vir voorheen werklose mense van die gemeenskap. Tans word groente nie daar verkoop nie, weens die waterskaarste, maar die tuiniers sal weer vroeg in volgende jaar begin plant.
Oor die feestyd sal Marius en sy kollegas meestal oggende in die tuin doenig wees. Mense wat meer oor die geneeskrag van kruie wil weet, kan hier met hom kom gesels.