Rally to Read besoek Weskus

Elke jaar trek ’n streep voertuie, gelaai met leesmateriaal en sporttoerusting, met wapperende vlae weg op pad na ’n plattelandse bestemming.


Elke jaar trek ’n streep voertuie, gelaai met leesmateriaal en sporttoerusting, met wapperende vlae weg op pad na ’n plattelandse bestemming.

Reeds 17 jaar lank bring die Rally to Read-veldtog opvoedkundige leesmateriaal aan laerskole in meer afgeleë gebiede. Saterdag het vier spanne vir die eerste keer hierdie 3-jaar-program na agt laerskole in die Weskus gebring.

Laerskool HP Williams in St. Helenabaai is een van hulle. Hier is ’n dag met sportaktiwiteite en voordrag deur eisteddfod-presteerders gereël om die gaste te verwelkom.

Die sewe ander skole is Jurie Hayes Primêr, Laerskool Langebaanweg, Langebaan Primêr, Noordhoek Primêr, St. Augustine’s Primêr, St. Helenabaai Primêr en Steenberg’s Cove Primêr.

“Vandag is net die puntjie van die seekoei se ore,” het Willie Sparks, spanleier, begin. Die leesboeke word opgestel deur die READ Educational Trust wat ook opleiers beskikbaar stel om oor die volgende drie jaar die onderwysers by te staan hoe om die leesmateriaal doeltreffend aan te wend.

Die onderwysdepartement en die Trust kies elke jaar die skole waarby die veldtog betrokke gaan raak.

“Ons sien gewoonlik ongelooflike groei,” het Sparks gesê.

“Dit is deesdae ’n uitdaging om kinders, wat so gerig is op tegnologie, sover te kry om te lees. Ons is dus baie dankbaar hiervoor,” het Gerald Cloete, voorsitter van HP Williams se studentebeheerliggaam, die span bedank.

By elke skool is ’n simboliese kontrak oorhandig en ’n toer van die skool onderneem.

McCarthy Bidvest dryf die Rally to Read-veldtog met verskeie borge wat deur die jaar geld vir die projek insamel en so die voortbestaan van die projek moontlik maak.

Shell is die afgelope paar jaar die hoofborg van die projek en het boekies oor padveiligheid geskenk.

You need to be Logged In to leave a comment.