Die Amerikaners is nie altyd ’n goeie volk om raad van te aanvaar nie, maar een geld­ghoeroe, Dave Ramsey, maak tog sin. Hy meen ek sal nooit finansiële welvaart geniet indien ek skuld het nie.

Dit sal glo nie saak maak hoe suksesvol ek spaar nie – as ek groot skuld het, sal ek in die finansiële moeilikheid wees.

Geldghoeroes verduidelik dat net soos my spaargeld rente opbou, so bou my skuld ook rente op. Die rente van skuld is gewoonlik meer en hoop vinniger op as wat my spaargeld kan groei.

’n Loer na my bankstate bewys dit tog. Ek verdien omtrent 3% rente in my spaarrekening en kan tot 5,05% rente verdien afhangend van hoeveel geld in dié rekening is.

Hierteenoor hef ’n klerewinkel 24,85% rente op my skuld. Dit beteken elke maand moet ek ’n paaiement plus 24,85% van die groottotaal wat ek skuld, betaal.

Om die som te maak met R750: Indien ek R750 in my spaarrekening het, verdien ek maandeliks R22,55 bykomend. Indien my klerewinkelskuld ook R750 was, sou ek omtrent R186 saam met die maande­likse paaiement moes terug­betaal.

Hoe wonderlik sou dit nie wees as dit liewer my spaar­rekening was wat 24,85% verdien het nie?

Só kan ek sien dat die spoed waarteen my skuld se rente “groei” ver voor dié van my spaargeld is.

Dít is waarom Ramsey meen ware finansiële rykdom kan eers begin wanneer jou skuld (buiten ’n huisverband of eiendomverwant wat oor jare afbetaal word) jou vinniger sal onderkry as wat jy besef.

Ramsey meen dit is belang­rik om eers ’n bietjie spaar­geld vir ’n noodgeval eenkant te sit, verkieslik kontant of maklik verkrygbaar.

Hierna moet alle “ekstra” geld vir die afbetaal van skuld aangewend word. Skuld aan winkels, kredietkaarte, motors en persoonlike lenings moet eerste waai aangesien dié skuld gewoonlik hoë rentekoerse het.

Ek is nou besig om ontslae te raak van my skuld sodat ek ook ryk kan word, soos Oom Ramsey sê.

You need to be Logged In to leave a comment.