Raadslid kry finale waarskuwing oor stryery

’n DA-raadslid van Bergrivier-munisipaliteit het ’n finale waarskuwing ontvang na bevind is hy het die raad se gedragskode tydens ‘n stryery oortree.


’n DA-raadslid van Bergrivier-munisipaliteit het ’n finale waarskuwing ontvang na bevind is hy het die raad se gedragskode oortree.

Die besluit is Dinsdag 21 Junie by ’n raadsvergadering geneem oor die wyksraadslid vir Goedverwacht en Wittewater Danny Smith (Wyk 5). Dit gaan oor Smith se beweerde optrede gedurende ’n geskil met ’n plaaslike boer en die inwoners van Goedverwacht in November 2015.

Volgens Johan Raats, speaker van die raad, het ’n boer wie se grond aan Goedverwacht grens, huise vir van sy werknemers op sy grond gebou.

Inwoners van Goedverwacht het toe opgeruk na die huise en beweer die huise is op Goedverwacht se grond gebou, waarna ’n rusie ontstaan het.

“Daar is op mekaar gevloek en geskel, maar die huise is nie afgebreek nie,” het Raats bevestig.

Smith, DA-raadslid vir Goedverwacht en ’n inwoner van die Morawiese-sendingdorp, was ook die aand betrokke en het glo ook gevloek en geskel op die boer en die se twee seuns oor die huise.

’n Klag is toe deur die boer by die DA ingedien.

“Ná ’n gesloer is die saak einde Februarie by my aangemeld,” het Raats aan Weslander bevestig.

Raats het toe bewysstukke aangevra, wat videobeeldmateriaal van die stryery insluit, en Smith se beëdigde verklaring van die gebeure, waarna ’n onafhanklike ondersoek geloods is.

“Die ondersoek is 30 Mei afgehandel en omdat die hele raad oor die dissiplinêre optrede moet besin, is daar toe Maandag uitspraak gegee.”

Volgens Raats word die saak in ’n ernstige lig gesien en het Smith verkeerd opgetree.

“Smith het die gedragskode oortee en moes liewers probeer het om gemoedere te kalmeer.”

Adv. Hanlie Linde, munisipale bestuurder, het die raad se besluit beaam en aan Weslander gesê Smith se optrede was “onaanvaarbare gedrag vir ’n raadslid”.

Smith sal die uitspraak van die raad eers komende Maandag ontvang, maar het bevestig hy gaan appèl aanteken.

“Ek is ’n raadslid en ’n inwoner van Goedverwacht en ek was daar, maar ek het niks met die stryery en bakleiery te doen gehad nie,” het Smith by navraag gesê.

Smith is nie vir die komende plaaslike verkiesing weer deur die DA verkiesbaar gestel nie.

You need to be Logged In to leave a comment.