R7 miljoen se Mandrax deur Valke gekry

‘n Reuse R7,56 miljoen se Mandrax-tablette is Maandagaand 28 November deur die Valke op ‘n plaas naby Vredenburg gekonfiskeer.


‘n Reuse vonds Mandrax-tablette ter waarde van sowat R7,56 miljoen is op ‘n plaas buite Vredenburg gekry.

Die Valke het die vonds, gereken as die grootste nog op die Weskus, Maandagaand 28 November tydens ‘n klopjag gekonfiskeer.

Vier mans, drie van Gauteng en een van Vredenburg, is ook in die klopjag, wat om 19:20 plaasgevind het, in hegtenis geneem.

Die 168 000 Mandrax-tablette wat gisteraand op ‘n plaas naby Vredenburg deur die Valke gekonfiskeer is.

Volgens kol. Jakkie von Litsenborgh, adjunkhoof van die Vredenburg-polisiegroep, sal die mans Woensdag, 30 November in die Vredenburg-landdroshof op aanklagte van dwelmhandel verskyn. Die kanse is blykbaar groot dat die saak na die Kaapse Hooggeregshof verwys kan word.

Meer as 168 000 tablette, sowel as die trok waarmee die dwelms vervoer is, is gekonfiskeer.

Die verdagtes het voorgegee dat hul matrasse met die trok vervoer. Die dwelms is in ‘n versteekte paneel voor in die trok gevind.

Die trok waarin die Mandrax-tablette vervoer is. Daar is deur die verdagtes voorgegee dat hulle matrasse vervoer het, met die dwelms wat in ‘n versteekte paneel voor in die trok gevind is.

Von Litsenborgh beweer dit wil voorkom asof die Gautengse dwelmsindikate nou plattelandse dorpe teiken om hul dwelms in die Kaapse skiereiland te versprei.

“Hierdie is sweerlik een van die grootste dwelmvondse wat nog in die Weskus gemaak is,” het Von Litsenborgh oor die sukses gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.