Sosiale media gee die publiek die wanindruk dat hulle met polisie-ondersoeke kan inmeng, maar die polisie waarsku dat inmenging tydens ’n ondersoek ernstige gevolge inhou wat die integriteit van die ondersoek en die veiligheid van die betrokkenes in gevaar kan stel.
Volgens die polisie se Weskus-distrikskantoor is faktore wat ’n polisieondersoek belemmer, getuies wat geïntimideer of geteister word, bewyse wat vertrap of vernietig word en die inmenging met leidrade of vals wenke. Die polisie is verplig om elke leidraad op te volg, wat in die geval van ’n vals wenk kosbare tyd laat verlore gaan.
Wanneer lede van die publiek in ’n ondersoek inmeng en dit probeer “lei”, volg die verspreiding van vals berigte gewoonlik.
Inmenging wat ’n ondersoek laat uitrek, gee moontlike verdagtes die tyd om te vlug of bewyse te vernietig en veroorsaak onnodige vertragings.
As lesers bewus raak van lede van die publiek wat doelbewus by ’n saak inmeng, vra die polisie dat hulle dit onverwyld by hul naaste polisiekantoor aanmeld, en gaan die Weskus-polisie so ver as om mense te vra om kommunikasie te vermy met lede van die publiek wat probeer inmeng.
Die polisie se ondersoekers moet toegelaat word om hul werk sonder inmenging te doen om ’n suksesvolle en regverdige uitkoms te verseker.
’n Ondersoekbeampte word aangewys vir elke saak en alleenlik dié ondersoekbeampte het insae in die saakdossier.
Polisiebeamptes word onnodig gepeper met nauurse besoeke en navrae en voorskrifte van die publiek se kant af, wat weer eens ’n ondersoek kan belemmer.