Talle Weskus-onderwysers het onlangs geleer om wiskunde pret te maak vir hul leerders danksy kreatiewe en innoverende lesse.
Meer as 160 onderwysers van die plaaslike onderwysdistrik het verlede maand die Woeker met Wiskunde-konferensie in Citrusdal bygewoon.
Die geleentheid is deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) in samewerking met die Weskus-onderwysdistrik en met steun van die Trust vir Afrikaanse Onderwys gehou.
Onderwysers reg deur die grade het ’n reeks lesings, werksessies en motiveringspraatjies bygewoon.
Hier het hulle geleer hoe om algemene items in onderrigmiddels te omskep. Klem is ook veral op praktiese onderrig gelê. Wenke om onderrig uit te brei deur gebruik van innoverende internetgebaseerde bronne is onder meer bespreek.
Vanjaar was die tweede Woeker met Wiskunde-konferensie in die Weskusstreek.
Die Weskus-konferensie het onderwysers van dwarsoor die onderwysdistrik gelok. “Die onderrig en verstaan van wiskunde is ’n massiewe uitdaging in skole,” verduidelik die uitvoerende hoof van die SBA, dr. Niel le Roux.
“Ek gaan hier weg met totaal ander onderrigbenaderings wat ek kan oorweeg en het reeds van die nuwe idees in my klaskamer toegepas,” sê Mervin Christians van Noordhoek Primêr in Velddrif.
Graad O-onderwysers Chandre Beukes van Engelbrecht Primêr in Elandsbaai het dit waardeer om onderrigpakkette te ontvang met items soos boublokke en telkaarte, en om meer tegnieke te leer om dit vir klasgee te gebruik. “Die kinders was mal daaroor toe ek dit Maandagoggend aan hulle gewys het.”