Verskeie sakepersele in en om Voortrekkerstraat is in die swaar reën heeltemal oorstroom. Foto’s: Alta Kriel

Die Bergrivier-munisipaliteit moes Dinsdag 8 April bontstaan om inwoners van Porterville by te staan nadat die Bergrivier wat daar naby vloei sy walle ná ‘n wolkbreuk oorstroom het.

Mario Wessels, onderburgemeester, sê sowat 120 mm reën het binne ‘n uur geval. Die hele Voortrekkerstraat, die dorp se hoofstraat, is oorstroom en motors het uit verskillende rigtings in lang rye opgedam.

Wessels sê ook die munisipaliteit het Dinsdag reeds met skoonmaakaksies in dié dorp aan die voet van die Olifantsrivierberge begin.

Teen die tyd dat Weslander drukkers toe is, was hulle steeds besig. Die omvang van die skade sou nog bepaal word.

“Skoonmaakbedrywighede sal oor die volgende paar dae voortgaan om te verseker dat alle dienste ten volle funksioneer,” het die munisipaliteit in ‘n verklaring gesê.

Volgens die Porterville-ontspanningsfasiliteit, ‘n organisasie sonder wingoogmerk, was die oorstromings erger as ‘n orkaan wat ‘n jaar gelede hul gebou se dak afgewaai het.

“As ons terugkyk, was die orkaan niks in vergelyking hiermee [die oorstroming] nie.

“Gister het die hemel oopgegaan en ons het in ‘n kort tydjie ‘n uiterste volume water ervaar, wat veroorsaak het dat die rivier sy walle oorstroom het en die resultaat is verwoestend,” lui ‘n inskrywing op hul Facebook-blad.

“Ons het die swaarste daarvan gekry aangesien ons op die rivier en by die laagste punt van die skouterrein is. Ons heinings is af, ons speelterrein het weggespoel.”

Die munisipaliteit het ook almal bedank wat gehelp het met die skoonmaakbedrywighede en om hulpbronne soos kos, matrasse en warm komberse vir die geaffekteerde inwoners te verskaf.

Vergaderings oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan wat vir Woensdag en Donderdag 9 en 10 April beplan is, moes gekanselleer word.

Bel Noël Williams, rampbestuurhoof, by 083 500  5575 indien jy of ander gemeenskapslede dringend bystand benodig.

Twee inwoners stoei om deur die sterk vloeiende water in ‘n perseel in te kom.
Die water het tydens die oorstroming diep gestaan.
Kantoorpersoneel moes op Dinsdag 8 April en Woensdag 9 April skoonmaak om die skade wat deur die vloed veroorsaak is, te probeer ongedaan maak.
‘n Gang lyk meer soos ‘n stroompie tydens die oorstroming.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025