Die Porterville-omgewing ervaar ’n geweldige styging in aanlyn bedrog.
Volgens AO KB von Waltsleben, waarnemende ondersteuningshoof van die Porterville-polisie, moet die publiek baie paraat wees aangesien aanlyn skelms daagliks al hoe meer uitgeslape raak.
Heelwat mense besef te laat dat hulle met ’n slap riem gevang is en dat hul swaarverdiende geld deur skelms uit hul rekeninge onttrek is.
“As dit amper te goed is om waar te wees, is die kans vir bedrog goed,” waarsku hy.
Von Waltsleben het die volgende raad saamgestel sodat nie net die mense van Porterville nie, maar die hele Weskus-gemeenskap, hulself teen aanlyn bedrog kan beskerm:
“Phishing”
Phishing is wanneer jy ’n e-pos kry waar jy versoek word om op ’n skakel te kliek wat jou na ’n vals webblad van ’n bekende organisasie of instelling sal neem.
“Die slagoffer sal dan ’n webblad sien wat presies soos die oorspronklike organisasie of instelling se webblad lyk. Daar sal hy dan gevra word om sensitiewe, persoonlike inligting te verskaf,” verduidelik Von Waltsleben.
“Geen bekende organisasie of instelling sal jou versoek om sensitiewe inligting soos jou bankbesonderhede, PIN-nommer of ID-nommers aanlyn te verskaf nie. Hierdie inligting word gebruik om bedrog te pleeg.”
“Vishing”
Vishing gebeur wanneer ’n swendelaar jou bel en hom of haarself voordoen as ’n bank se werknemer of diensteverskaffer.
“Hierdie skelms is baie oortuigend en manipuleer jou dan om sensitiewe inligting te verskaf,” sê Von Waltsleben
Pasop! In die meeste van hierdie gevalle is die slagoffer gewoonlik heeltemal oortuig dat hy wel met ’n bankamptenaar praat. Die inligting word dan gebruik om bedrog te pleeg.
Weer eens – bekende instellings soos banke sal nié sensitiewe inligting van die kliënt oor die foon vereis nie.
As jy nie seker is, beëindig eerder die oproep en gaan self na jou bank om seker te maak.
“Smishing”
Smishing is die verkorte naam vir “SMS phishing” wat dieselfde is as phishing. Die verskil is egter dat jy beïnvloed word om sagteware op jou foon af te laai, wat dan gebruik word om persoonlike inligting te bekom.Algemene raad. Moenie op enige skakels wat via e-pos of sms aan jou gestuur word, kliek nie. Moenie enigsins op hierdie e-posse of SMS’e reageer nie.. Moenie blindelings alles glo wat aan jou gestuur word nie.
- Moet dus onder geen omstandighede jou OTP telefonies aan enigiemand verskaf nie. Kontak die bank dadelik en kanselleer die transaksie.

