Andante Intenso-olyfolie het vir ’n olyflandgoed van Porterville ’n plek in vanjaar se Absa Top Tien-kompetisie besorg. Dit het gevolg op goud by die jaarlikse SA Olyf-kompetisie.
Daar het die Wêreldsgeluk-olyflandgoed ook twee silwers vir ander olies in die afdelings vir intense en delikate olies, asook ’n brons in die medium afdeling gekry. Beoordelaars beskryf hul olyf as mooi groen en ryp, met genoeg bitterheid en skerpheid, goed gebalanseerd met note van tamatie- en artisjok. Darling Olywe het silwer in die medium afdeling gekry.
Jan Hendrik Basson en Willie Duminy maak die Andante-oliereeks op die landgoed, sowat 130 km buite Porterville in die Winterhoekberge.
Die eerste olyfbome is in Maart 2006 geplant en daar is nou al 36 hektaar onder 35 000 olyfbome.
Die SA Olyf-toekennings word jaarliks aan die land se beste ekstra suiwer olyfolies gemaak. Die paneel van deskundige proeërs beoordeel die olywe blind, volgens internasionale standaarde. Die Andante Intenso-olyf smaak luidens hul webwerf, www.andanteoliveoil.co.za, goed saam met geregte soos carpaccio en braaivleis, in souse, tamatiedisse en slaaie, pasta, risotto en word ook mee gebak. Dié mediumintensiteit Andante ekstra suiwel olyfolie is te koop by Checkers supermarkte.