Polisieman vas ná rooftog

Minute ná ’n noodlottige sakerooftog verlede week in Velddrif is ’n foto van ’n wit Toyota Avanza met ’n CFG-nommerplaat oral op sosialemediagroepe aan die Weskus versprei. Getuies het beweer dit is die motor waarin die gewapende rowers gevlug het.


Minute ná ’n noodlottige sakerooftog verlede week in Velddrif is ’n foto van ’n wit Toyota Avanza met ’n CFG-nommerplaat oral op sosialemediagroepe aan die Weskus versprei. Getuies het beweer dit is die motor waarin die gewapende rowers gevlug het.

Met die nagaan van die motor se registrasienommer, CFG 1227, het die polisie besef dat dit aan ’n polisiebeampte by die Saldanha-polisie behoort – sers. Zola Bapeti (48).

Hy is Vrydag (13 September) by ’n supermark in Vredenburg in hegtenis geneem nadat ’n lasbrief vir inhegtenisneming verkry is.

Yassin Mphona (35), ’n boorling van Malawi, is Maandag 9 September in dié gewapende sakeroof by die Miki-Velddrif-supermark in Noordhoek doodgeskiet en Herman Baumeester (51), ’n plaaslike visserman, gewond.

Mphona was een van drie werkers wat die oggend omstreeks 10:00 besig was om in “Die Blou Winkel” op die hoek van Tulp- en Vuurpylstraat te werk. Die gewapende rowers het hulle gedwing om op die vloer te lê.

Die Weskus-polisie het verlede week gesê die rowers het almal op die grond laat lê en geld uit die kasregister gehaal. Hulle het ook beskermingsgeld van die winkeleienaar geëis.

Baumeester het die winkel onskuldig ingekom om goedere te kom haal. Hy is in die rug geskiet toe hy die rowers gesien, omgedraai en probeer vlug het. Hy sterk steeds in die Groote Schuur-hospitaal aan.

Mphona is koelbloedig doodgeskiet net waar hy gelê het, waarna die rowers met geld en selfone in die wit Avanza gevlug het.

Yanele “Ndoda” Mangweni (ook bekend as Anele Ongwenya) en Siyabonga “Siya­m­cela” Kholakele, wat moontlik met die rooftog verbind kan word, word nog deur die polisie gesoek. Mense word gewaar­sku om hulle nie self te konfronteer nie aangesien hulle moontlik gewapen kan wees. Albei word ook deur die polisie gesoek in verband met verskeie sake van moord, poging tot moord, huisroof en sakeroof in Kraaifontein, Kaapstad.

Dié sakerooftog in Velddrif volg skaars ’n dag ná ’n soortgelyke rooftog by ’n winkel in Laingville, St. Helenabaai.

Twee gewapende rowers het ’n 25-jarige winkeleienaar Saterdagaand 7 September in sy winkel in Ericastraat van R9 000 beroof en gevlug.

Generaal-majoor Sizakhele William Dyantyi, Weskus-distrikskommissaris, het vandeesweek na aanleiding van Bapeti se inhegtenisneming ’n streng waarskuwing uitgereik dat korrupte polisiebeamptes geen plek in die polisie of in die gemeenskap het nie en die polisie se nul-verdraagsaamheid-benadering benadruk.

Bapeti, wat Maandag (16 September) vlugtig in die Laaiplek-landdroshof verskyn het, se saak is uitgestel tot Maandag 23 September vir borgtoginlig­ting. Hy sal Woensdag 25 September formeel om borgtog aansoek doen. Hy word aangehou. Enigeen met meer inligting oor die rooftogte kan die ondersoekspan by 082 607 6481 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.